
Studente bied isiXhosa-produksie aan
Verskeie elemente van die amaXhosa se kultuur is gevier in die eerste isiXhosa-kulturele produksie wat deur onderwysstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is.
Die doelwit van die produksie was onder meer om die uniekheid van die kultuur ten toon te stel, 'n ryker en blywende leergeleentheid vir alle deelnemers te skep en samewerking in kennisverkryging aan te moedig.
Die deelnemers het gewissel van tweedejaar-BEd- tot Nagraadse Onderwyssertifikaat- (NOS) studente. Die meeste van hulle praat isiXhosa as 'n derde taal, veral die Xhosa-kommunikasie 378- & 388-groepe wat die meerderheid van die toneelspelers uitgemaak het. Die organiseerders van die geleentheid het wyd geraadpleeg om 'n gepaste en sensitiewe benadering tot die verskeidenheid onderwerpe te verseker.
Die produksie is in 'n tent op die gras voor Nerina-koshuis aangebied en het 'n "klaskamer buite die formele klaskameromgewing" daargestel.
Prof Maureen Robinson, Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, sowel as personeellede van die US se Transformasiekantoor en verskeie ander departemente, sentrums en eenhede by die US het onder die gaste getel.
Dr Michael le Cordeur, voorsitter van die Departement Kurrikulumstudies, het die produksie as 'n "geskiedkundige gebeurtenis" beskryf en die inisiatief geloof.
" 'n Oggend soos dié is baie belangrik as ons wil bewys dat ons ernstig oor inheemse tale is. Die US het homself verbind om isiXhosa te ontwikkel en te ondersteun en hierdie produksie is 'n belangrike stap op die regte tydstip."
Onderwerpe wat die verskeie groepe aangeraak het, was musiek, tradisionele en kontemporêre dans, hooftooisels en gesigversierings, voedselvervaardiging en -verwerking, voedselvoorbereiding en die geniet van 'n maaltyd, die waarde van familie, huweliksgebruike, die belangrikheid van die amaXhosa in die geskiedenis van die Shosholoza-liedjie, tradisionele musiek en sang, naamgee-praktyke en argitektuur.
Prof Robinson het gesê dit was indrukwekkend om die gehalte van die werk, die goeie gees, die spanwerk onder die baie groot en diverse groep studente en die respek wat kwessies soos taal en kultuur geniet het, te sien.
"Ek is seker die studente sou baie hieruit geleer het wat hulle kan saamneem in hul toekomstige werk as onderwysers," het sy bygevoeg.