
Studente-atlete baat by verbeterings by Maties Gimnasium
Hoëprestasieafrigters en -breiers by Maties Sport moenie net studente-atlete se fisieke werklading bestuur nie, maar ook seker maak dat hulle slim en doeltreffend oefen in die beperkte tyd tot hul beskikking.
Die onlangse opdatering van en verbeterings aan Maties Gimnasium se Hoëprestasie- (HP-) area sal die Maties Sport HP-eenheid se krag- en kondisioneringafrigters met dié doelwit help.
Hoewel die HP-area nie vir die uitsluitlike gebruik van Maties Sport se studente-atlete is nie, oefen HP-oefengroepe sowel as individuele HP-atlete daar as deel van hul onderskeie oefenprogramme.
“Uit 'n kapasiteit- en logistieke oogpunt, moet ons toegang tot die Maties Gimnasium koördineer en die tyd wat ons daar kan kry, maksimeer," sê Sean Surmon, Hoof van Maties Sport se HP-eenheid.
Nie alleen is die uitleg van die HP-oefengebied verander om groter kapasiteit te bied nie, maar bestaande toerusting is vervang en nog oefentoerusting is aangeskaf om vir meer atlete voorsiening te maak.
Dit is waar Francois Kotze, bestuurder van Maties Gimnasium, en Nico Koutakis, 'n krag- en kondisioneringafrigter by Maties Sport, inkom.
“Ons het oor die afgelope twee jaar R8 miljoen in die fasiliteit belê met 'n verdere R5 miljoen wat hierdie jaar belê gaan word. Ons wil die beste fasiliteit hê – dit is ononderhandelbaar. Die Maties Sport HP-program groei voortdurend en ons moet byhou," sê Kotze.
Die verbeterings sluit in: Onderhoud aan die sportspesifieke vloer; vervanging van al die ou ELEIKO-toerusting (gewigplate, balke, ens.); aankoop van hoëtegnologietoerusting aangedryf deur Technogym; aankoop van Kaizer- funksionele oefentoerusting; aankoop van gespesialiseerde toerusting vir atlete met bewegingbeperkings en vervanging van al die handgewigte om 'n groter versameling te hê.
“Ons het waarskynlik een van die grootste handgewigversamelings in die land. Dit stel ons in staat om 'n verskeidenheid verskillende spanne op dieselfde tyd te akkommodeer," voeg Kotze by.
Koutakis verduidelik: “Ons kan nou drie spanne hê wat gelyktydig met dieselfde soort oefenmetodologie besig is. As breier is dit nou baie makliker om te doen wat jy moet doen. 'n Span kom in en hulle het net 'n uur om te oefen. As hulle rondstaan en vir toerusting wag, mors hulle tyd."
“Studente-atlete is eers studente en dan atlete. Hul akademiese verpligtings is 'n prioriteit gedurende die dag," beklemtoon Surmon. “Daarom moet ons slimmer en meer doeltreffend oefen in die tyd wat ons wel met hulle het.
“Ek twyfel of daar nog 'n plaaslike universiteit is met toegang tot dieselfde soort wêreldgehalte fasiliteit. Maties Sport en die HP-eenheid is baie trots om dit aan ons studente-atlete te kan bied en baie bevoorreg en dankbaar om so 'n fantastiese verhouding met Maties Gimnasium te hê," sluit Surmon af.