Skip to main content
'Stellenbossers moet saampraat' - Ramphele

'Stellenbossers moet saampraat' - Ramphele

Wayne Muller
16 September 2016

As deel van die sesde jaarlikse e'Bosch Erfenisprojek het die Universiteit Stellenbosch (US) Donderdag (15 September) 'n prestige-lesing deur dr Mamphela Ramphele aangebied, waartydens sy inwoners van die Stellenbosch-vallei aangemoedig het om hul ryk erfenis met mekaar te deel.

Die lesing is in die US Museum aangebied, en is deel van 'n maand lange viering van Stellenbosch se erfenis aan die vooraand van Erfenisdag op Saterdag 24 September.

In sy bekendstelling van dr Ramphele het dr Llewellyn MacMaster, Bestuurder: Spesiale Projekte by die US se Afdeling vir Sosiale Impak, haar as ʼn visionêre denker beskryf "wat mense in ʼn ruimte nooi om krities te dink en vorentoe te beweeg".

Dr Ramphele, ʼn politieke aktivis, akademikus en mediese dokter, het gefokus op hoe erfenis oor grense gedeel kan word en hoe ʼn nuut voorgestelde toekoms vir Stellenbosch en Suid-Afrika daar sal uitsien, en het aangevoer dat dit slegs moontlik is met ʼn 'emosionele vestiging' – die deel van mekaar se pynlike stories van die verlede.

"Die verbintenis van Stellenbosch met Simon van der Stel, die seun van ʼn Nederlander en ʼn vrou van Indiese afkoms, is ʼn magtige simbool van die rykheid van diversiteit van die erfenis van hierdie gebied," het dr Ramphele gesê.

"Die hele vallei is getuies van ʼn lang geskiedenis van ontmoetings tussen inheemse mense en Europese setlaars. Die stories van daardie ontmoetings behoort ʼn rykdom van wysheid vir huidige en toekomstige generasies te wees. Maar talle stories bly onvertel," het sy bygevoeg.

Dr Ramphele het erfenis beskryf as verbonde aan ʼn kwessie van grense, wat "fisieke en simboliese verskille beklemtoon. Ons word gevorm deur die erfenis wat ons beliggaam. Erfenis definieer binne- en buitestanders".

Sy het gesê die viering van die erfenis van die groter Stellenbosch-vallei kan dieper word as sosiale grense oorkruis word en inwoners hul eie erfenis bevraagteken.

"Erfenis word dikwels beskou as opgeslote in die verlede en die hede wat ons bewoon. Maar erfenis gaan oor die verlede, hede en toekoms. Dit gaan oor herinterpretasie van ʼn mens se verwysingsraamwerk om die toekoms opnuut voor te stel en te skep."

Sy het ʼn beroep op Stellenbosse inwoners gedoen om hul stories te vertel, veral dié van die afgelope 22 jaar sedert die geboorte van demokrasie in Suid-Afrika.

"As ons wil genees en gesond wil word, moet ons op ons sterk punte bou. [Die Stellenbosch-] vallei het meer as net ʼn paar sterk punte. Die inspan van daardie kollektiewe sterk punte sal julle op ʼn pad na ʼn gedeelde toekoms van wedersydse genesing en welstand plaas. Jul genesing en welstand sal uitbeeld wat vir ons samelewing moontlik is," het dr Ramphele gesê.

Sy het inwoners aangemoedig om oorweging daaraan te skenk om die taak van "emosionele vestigingsgesprekke om ons nasie te genees" aan te voor.