
Steinhoff Maties se fokus nou op Grootuitdaag-liga
Met 'n belangrike wedstryd in die WP Grootuitdaag-liga wat komende naweek plaasvind, sal die Steinhoff Maties Hokkie-mansspan nie baie tyd hê om te tob oor hulle teleurstellende uitslag in die Varsity Hokkie-kompetisie nie.
Maties se mans- en vrouespanne speel Sondag op Stellenbosch teen WPCC.
Maties het Maandagaand 0-1 teen UP-Tuks verloor in die semifinaal van die Varsity Hokkie-toernooi. Dit was die eerste keer sedert Augustus 2012 dat Maties op hul tuisveld verloor het. Die uitslag was selfs nog meer teleurstellend aangesien Maties al hul wedstryde in die toernooi gedomineer het ná hul nederlaag teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) in die eerste wedstryd van die kompetisie.
Hulle het 43 doele in agt wedstryde aangeteken en net ses afgestaan. Keenan Horne, Shannon Boucher en James Drummond het elk ses doele aangeteken. Daniel Bell het vyf doele aangeteken en Dylan Swanepoel en Reece Arendse vier elk.
Horne is drie keer as "Super striker" en twee keer as "Speler van die wedstryd" aangewys.
Die verwagtinge in die semifinaal teen Tuks was hoog. Maties het hulle verlede Vrydag 6-1 geklop. Maar Maandag was een van daardie dae waarop dinge net nie reg wou verloop nie. Hulle het kanse gehad, maar kon nie die bal in die doelboks kry nie.
Hoewel die teleurstelling duidelik was en die spelers sal voel dat hulle hulself in die steek gelaat het, moet hulle nou hul fokus na die volgende wedstryd skuif. Ná die hartseer van die Varsity Hokkie-toernooi sal hulle weer op die wenpad wil kom.
Die span se afrigter Ashlin Freddy verkies om na die positiewe aspekte van die toernooi te kyk. "Ek voel ons het as groep 'n goeie eenheid gevorm. Ons het ook begin om te ontdek hoe ver ons die grense van ons fisieke vermoëns kan skuif, wat beteken ons kan met 'n baie hoë intensiteit speel. Ons het die beste verdedigende rekord in die ligafase gehad deur net sewe doele in sewe wedstryde (die naasbeste was 16!) af te staan. Ons het ook die meeste doele (43) aangeteken. Die volgende span was op 33. Die eerstejaars het ook baie geleer en gegroei. Dit was 'n moeilike leerkurwe, maar dit sal baie beteken vir die res van die liga en die USSA-toernooi."
Maties speel Sondag tuis teen WPCC. "Dit gaan 'n groot emosionele toets vir ons wees. Ons het 'n paar baie jong spelers wat vir die eerste keer teleurstelling ervaar het. Ons speel teen 'n baie ervare span wat tot dusver 'n 100% rekord het. Om tydens die eksamens te speel, is nooit maklik nie, want ons plaas groot klem op akademie wat Sondag nog 'n groter uitdaging maak."
Daar sal Sondag vier wedstryde by die Maties Astro plaasvind. Vics speel teen Pinelands (mans en vroue) en die eerste wedstryd begin om 12:00. Maties se vrouespan speel om 15:00 teen WPCC en die mans se wedstryd sal om 16:30 plaasvind.
Foto: Keenan Horne