Skip to main content
Steinhoff Maties Krieket wen weer Boland-liga

Steinhoff Maties Krieket wen weer Boland-liga

Maties Krieket / Maties Cricket
18 April 2016

Die Steinhoff Maties-krieketspan is amptelik as die wenner van die Boland-liga gekroon. Deur die liga te wen, het Maties die titel wat hulle verlede jaar gewen het, suksesvol verdedig.

Volgens Maties se afrigter, Andrew Wylie, het Maties die liga gewen met nog drie wedstryde oor om te speel.

​"Hoogtepunte van die liga sluit in die kere toe spelers ware karakter gewys het toe hulle onder druk was. Die wegwedstryd teen Robertson is een so 'n geleentheid, asook die wedstryd teen Young Peoples waar ons na 'n swak begin teruggeveg het om te wen."

Wylie het bygevoeg dat hy baie beïndruk is met die jong draaiers en nuwe belowende vinnige boulers wat dié seisoen na vore getree het.

"Kyle Simmonds en Niel Botha was veral indrukwekkend met hul boulwerk en het dikwels vroeg toegeslaan toe hulle in die aanval gebring is. Die nuwe spelers en eerstejaars het ook mooi ingeskakel, met baie wat hul eerste smaak van ligakrieket gekry het deur vir Vics te speel. Van hulle het ook sedertdien waardevolle bydraes vir Maties gelewer."

Maties is nou al vir 'n paar jaar een van die sterkste spanne in die Boland-liga en Wylie voel sy span moet meer gereeld getoets word om hulle beter vir toernooie soos die Varsity-kriekettoernooi en die Nasionale Klubkampioenskapstoernooi voor te berei.

"Ek is oor die algemeen baie tevrede met die standaard van die spel, maar in dieselfde asem voel ek dat spelers meer getoets moet word. 'n Area waar ek wel glo ons moet verbeter, is veldwerk, en ons sal dit net regtig kan ontwikkel as ons gereeld aan situasies onder druk blootgestel word. Dit gebeur nie genoeg in die plaaslike liga nie."

Danksy die algehele oorwinning in die Boland-liga het Maties vir die Nasionale Klubkampioenskapsbyeenkoms gekwalifiseer. Maties het verlede jaar in die eindstryd teen Crusaders verloor. Die klubkampioenskap begin Vrydag.

Fotokrediet: Outsider Communications