Skip to main content
Steinhoff Maties Hokkie se mans weer op die wenpad

Steinhoff Maties Hokkie se mans weer op die wenpad

Maties Hockey / Maties Hokkie
08 Junie 2016

​Ná sy eerste nederlaag in 'n Westelike Provinsie-ligawedstryd in drie seisoene, het Steinhoff Maties Hokkie se mansspan die afgelope naweek weer op die wenpad gekom deur Vishoek 5-1 te klop.

Die doele is aangeteken deur deur Keenan Horne (2), James Drummond en Reece Arendse (2).

Maties is tans tweede op die puntelys ná WPCC. Maties het nege wedstryde gespeel: vyf gewen, drie gelykop en een verloor.

Dylan Swanepoel, die kaptein, is nie heeltemal tevrede met die manier waarop sy span tot dusver in die liga speel nie.

"Ons is nie konsekwent nie. Ons is 'n jong span, maar dit is nie 'n verskoning nie. Ons het baie ure op die oefenveld spandeer en skuld onsself beter spel ná al die harde werk wat ons insit."

Een van die mees dramatiese wedstryde tot dusver dié seisoen was teen WPCC. Maties was 1-3 agter met slegs 'n paar minute oor om te speel en het 20 sekondes voor die einde van die wedstryd die gelykmakerdoel aangeteken.

"Ons het glad nie goed gespeel nie, maar ons het karakter getoon om 'n gelykopuitslag te kry."

Swanepoel wil graag hê sy span moet meer konsekwent wees en nie oorweldig word deur die druk wat gepaardgaan met die eer om die driemalige kampioen te wees nie.

"Daar is beslis druk. Die span het egter baie nuwe spelers en ons weet dat dinge nie dieselfde sal wees as in die verlede nie. Maar ons gaan steeds alles moontlik doen om onsself die beste kans moontlik te gee om weer die liga te wen."

Dit is Swanepoel se tweede seisoen as kaptein van Maties.

"Dit is 'n besonderse groep spelers en ek geniet die verantwoordelikheid om hul kaptein te wees."

Volgende op die kalender vir Maties is die USSA-toernooi in Johannesburg van 4-8 Julie. Hulle volgende WP-ligawedstryd is op 20 Julie teen Vics (tans vierde op die puntelys).​