Skip to main content
Stad Kaapstad beloon die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg- en Bellville-kampusse vir uitnemendheid in waterbestuur

Stad Kaapstad beloon die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg- en Bellville-kampusse vir uitnemendheid in waterbestuur

Petro Mostert
28 Februarie 2024

​Die Stad Kaapstad het onlangs onderskeidelik 'n 5-ster- en 3-ster-gradering aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg- en Bellville-kampusse toegeken vir doeltreffende waterbestuur om die nakoming van die Instelling se waterlisensievoorwaardes te verseker. Die implementering van waterstrategieë by die Tygerberg-kampus het gelei tot 'n vermindering van 40 persent in drinkbare waterverbruik. Die Bellville-kampus het water van die aangrensende diep meer gebruik om water aan die ontsoutingsaanleg te voorsien. Dit het gelei tot 'n aansienlike vermindering van drinkbare water met minimale toevoer vanaf die Kaapstadse waternetwerk.

Hierdie wateroplossings het voortgespruit uit werk wat die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur reeds meer as 'n dekade gelede begin het toe 'n kruisfunksionele span die Groen Besigheidsplan ontwikkel het. Hierdie was 'n plan wat spesifieke teikens vir verskeie omgewingsvolhoubaarheidselemente uiteengesit het. Dit het sedertdien ontwikkel tot die instelling Omgewingsvolhoubaarheidsplan wat in 2022 bekend gestel is.

"Ons Omgewingsvolhoubaarheidsplan bepaal dat ons die impak op die aarde se eindige hulpbronne - energie en water - moet verminder. Een van hierdie strategieë is die wateroptimaliseringstrategie," het SUFM se Direkteur van Eiendomsdienste, Nadeem Gafieldien, gesê.

"Terwyl hierdie strategieë in 2018 geïmplementeer is, het die Wes-Kaap een van die ergste droogtes nog ervaar. Terwyl Dag Zero ons in die gesig gestaar het, het ons dit reggekry om ons wateroptimaliseringstrategie gouer te implementeer. Ons het hierdie krisis in 'n geleentheid omskep deur hierdie strategieë te implementeer. Ons moes veranderinge in ons stelsels aanbring om hulle meer bestand teen toekomstige omgewingskrisisse te maak."

Gafieldien het gesê hulle het verskeie waterprojekte en -inisiatiewe ontwikkel en dit op al die US se kampusse geïmplementeer, insluitend die Tygerberg- en Bellville-kampusse. Dit het die opgradering van grootmaat-infrastruktuur, boorgate by Tygerberg, 'n nuwe diepmeerstelsel by die Bellville-kampus, die verandering van stortkoppe, krane en toiletbakke van twaalf tot ses liter, en die implementering van gryswaterstelsels ingesluit.

Gafieldien het gesê al hierdie inisiatiewe het hulle in staat gestel om drinkbare waterverbruik te verminder. Boonop kon hulle die munisipale rekening verminder, terwyl hulle veerkragtigheid in die Instelling se waterstelsels gebou het deur hierdie beperkte hulpbron te optimaliseer en te diversifiseer."

"Saam met al die goeie voordele, moet ons steeds voldoen aan spesifieke wetgewing en regulatoriese vereistes. Hierdie wetgewing vereis gereelde toetsing, bestuur, verslagdoening en oudits oor die watergehalte soos in die waterlisensies bepaal," het Gafieldien gesê.

Die US se omgewingsvolhoubaarheidsbestuurder, John de Wet, het bevestig dat die Tygerberg-kampus se waterverbruik 11 638 kl per maand is. Dit is gelykstaande aan ses Olimpiese swembaddens.

'n Geskatte 9 514 kl, of die ekwivalent van vyf swembaddens, word deur die munisipaliteit verskaf, en 2 124 kl, of een swembad, kom van die Tygerberg-kampus se boorgate wat in 2016 geboor is. Hierdie inisiatief het gelei tot 'n vermindering van 20 persent in drinkbare water wat die Stad Kaapstad voorsien en het di tons baie meer veerkragtig gemaak.

De Wet het gesê Bellville-kampus het 'n 50 meter-diep steengroef waar alle reën en stormwater opgevang word. "Die US het in 2018 die diepwatermeerprojekte by die Bellville-kampus geïmplementeer nadat ons toegelaat is om water uit die 52 meter diep meer te pomp. Ons het hierdie water, met 'n temperatuur van 12 grade celcius, gebruik om water aan drie areas op die kampus te voorsien. Eerstens in die HVAC-aanleg; tweedens, in die filtrasieaanleg; en laastens om die landskap te besproei.

Rou water uit die meer word gefiltreer in die filtrasieaanleg (omgekeerde osmose), wat aan alle kampusgeboue voorsien word."

John het bevestig dat hierdie stelsel na raming 2 051 kl per maand produseer. Dit is gelykstaande aan een Olimpiese swembad vol drinkwater. Volgens hom behoort dié kampus teoreties nie drinkbare water van die munisipaliteit te gebruik nie. Dit is egter onmoontlik weens die impak van beurtkrag, aangesien die stelsel dan outomaties na die munisipale watertoevoer oorskakel.

Gafieldien het gesê deur die omgewingsvolhoubaarheidsplan in 2022 aan te neem, is die US nou op 'n nuwe volhoubare trajek vir koolstofneutraliteit teen 2030 en netto nul teen 2050.

Groengebou-toekenning

Verder het die Groengeboueraad van Suid-Afrika (GBCSA) ons Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI)-gebou met 'n 4-ster-gradering as 'n nuutgeboude groengebou gesertifiseer. Die BMRI was die US se eerste gebou wat hierdie sertifisering van die GBCSA ontvang het.

Die GBCSA-graderingstelsel sluit in energiedoeltreffendheid, water- en afvalbestuur, die gebruik van groen materiale en konstruksiemetodes, binnenshuise luggehalte, vervoer, grondgebruik, emissies, innovasie en produktiwiteit.

"Geboue verbruik 75 persent van die nutsdienste en is die grootste bydraer tot die instellings se emissies en koolstofvoetspoor. Daarom fokus ons daarop om te verbeter hoe ons die prestasie van ons uitgebreide portefeulje van ons meer as 450 geboue meet en daaroor verslag doen. Ons verseker ook dat ons geboue baie groener is en verminder die impak op die omgewing en ons planeet," het Gafieldien gesê.