
Sportwetenskap val nou onder die FGGW
Die Universiteit Stellenbosch se Departement Sportwetenskap – die eerste departement van sy soort in Afrika – val van vanjaar af onder die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), nadat dit voorheen by die Fakulteit Opvoedkunde gesetel was.
Die Departement – wat reeds 82 jaar lank bestaan – sal steeds by die Coetzenburg-sportstadion in Stellenbosch gesetel wees en sal nie na die FGGW se Tygerberg-kampus skuif nie.
Dr Heinrich Grobbelaar, senior lektor en uitvoerende hoof van die departement, het die rede vir die skuif verduidelik. “Die Departement Sportwetenskap is in 1936 as ʼn liggaamlike opvoedingsprogram onder die Fakulteit Opvoeding gevestig en ons was sedertdien deel van die Fakulteit. Ons het in 1940 departementele status ontvang. Maar nadat Liggaamlike Opvoeding in die skoolkurrikulum deur Lewensoriëntering vervang is, moes ons ons akademiese aanbod diversifiseer. Dit het die realiteit meegebring dat ons nie meer soveel modules in die Fakulteit Opvoedkunde se programme onderrig nie. Pleks daarvan, fokus ons op die opleiding van bio- en kinderkinetici, asook op hoëprestasie-sportwetenskappe," het Grobbelaar gesê.
“Ons bied ʼn voorgraadse BSc of BA, waarna studente ʼn honneurs in een van daardie drie programme kan doen. Talle van die studente in daardie programme kom uit ʼn wetenskapsagtergrond, terwyl ander weer ʼn agtergrond in sosiale wetenskappe het," het Grobbelaar vervolg.
Volgens hom was een van die hoofmotiverings vir die skuif van Opvoedkunde na Geneeskunde dat die biokinetikaprogram by die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) geaffilieer is.
“Daar is ná ʼn paar departementele ondersoeke en HPCSA-akkreditasiebesoeke aanbeveel dat ons oorweeg om na die FGGW te skuif om ons akademiese aanbod in lyn te bring met wat hulle aan daardie kant aanbied.
“Die ander motivering is dat ons nou met die Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde (ISOG) saamwerk, al is ons afsonderlike entiteite. Die ISOG is by Tygerberg gesetel. As deel van ons skuif na die FGGW beoog die Instituut om ʼn laboratorium langs ons bestaande gebou op die Coetzenburg-kampus te bou. Dit is belangrik om te onderskei dat ons ʼn akademiese departement en hulle ʼn instituut is. Ons gaan saamwerk, maar ons is nie een en dieselfde ding nie," het hy gesê.
Grobbelaar meen dis ʼn goeie skuif. “Dit beteken eerstens ons sal in ʼn omgewing wees waar ons werklik dit wat ons tans aanbied in lyn kan bring met wat reeds by die FGGW gebied word. Veral die biokinetikastudente sal nouer netwerke kan vorm met geaffilleerde gesondheidsberoepslui soos dokters, fisioterapeute, ensovoorts. Dit is ons grootste onmiddellike geleentheid. Tweedens is daar by die FGGW meer geleenthede om vir beter en moderne laboratoriumtoerusting aansoek te doen.
“Nog ʼn groot geleentheid sal wees dat ons ons samewerking met kundiges by die FGGW sal kan uitbrei. Ons het altyd gemeen daar is baie ruimte vir samewerking tussen Sportwetenskap en kundiges in die breë mediese veld."
Grobbelaar is opgewonde oor die skuif. “Daar sal ʼn paar uitdagings wees met die belyning van die prosesse, maar dit is bloot geboortepyne wat in die volgende paar maande uitgestryk sal word. Die studente met wie ons gepraat het, het ook baie goed op die aankondiging gereageer."