Skip to main content
Spivak: “Ons behoort te bid dat 'die ander' by ons sal spook"

Spivak: “Ons behoort te bid dat 'die ander' by ons sal spook"

Lynne Rippenaar-Moses
14 Augustus 2017

​By die onlangse IPSA-konferensie oor gender, politiek en die staat wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is, het prof Gayatri Chakravorty Spivak besin oor globalisasie, universiteite se rol in studenteonderrig, en beplanning vir mislukking.

“Ons behoort te bid dat 'die ander' by ons sal spook."

So sê prof Gayatri Chakravorty Spivak, 'n toonaangewende literêre teoretikus en feministiese kritikus van die Universiteit van Colombia, wat wêreldbekend is vir haar deeglike en sorgvuldige Engelse vertaling van filosoof Jacques Derrida se De la grammatologie wat in 1967 as Of Grammatology verskyn het.

Spivak was een van die hoofsprekers by 'n konferensie van Navorsingskomitee 07 (Vroue en Politiek in die Globale Suide) (RC07) van die Internasionale Vereniging vir Politieke Wetenskap (IPSA). Die geleentheid is aangebied deur prof Amanda Gouws, RC07-voorsitter én bekleër van die Universiteit Stellenbosch (US) se SARChI-navorsingsleerstoel in genderpolitiek, terwyl die US se Bestuurskool as Spivak se gasheer opgetree het.

Deur die vertaling van Derrida se werk het Spivak dekonstruksieteorie vir vele vakkundiges wêreldwyd ontsluit. Dekonstruksie, aldus die Internet Encyclopedia of Philosophy, is “om 'n teks uitmekaar te haal op die strukturele 'verskuiwingslyne' wat uit die inherente teenstrydighede van een of meer van die kernkonsepte of -temas daarin ontstaan, en sodoende die dubbelsinnighede of teenstellings bloot te lê waarop die teks berus". 

By die RC07-konferensie het Spivak 'n paneelbespreking oor “die kwynende hede by die globale universiteit" ingelei. Ander paneellede was prof Vasti Roodt, 'n medeprofessor in die US se Departement Filosofie, wat in haar navorsing op moderne politieke filosofie en vrae oor die skeiding tussen openbaar en privaat sowel as die sosiale kontrak konsentreer, en me Lovelyn Nwadeyi, 'n US-alumna, voormalige radioaanbieder op 702 en 'n kampvegter vir maatskaplike geregtigheid, wat in 2015 aan die eerste golf van die beweging #FeesMustFall deelgeneem het.

“Wanneer ek van die globale universiteit praat, sê ek nie 'dink globaal, doen globaal' nie," het Spivak gesê. “Die lokale ís die globale, so ons moet weer gaan dink oor hoe ons hierdie woorde verstaan."

“Ek het al klas gegee vir onderwysers op Indië se Jharkhand-grens sowel as vir PhD-studente by die Universiteit van Colombia in Amerika, so my ervaring kom van heel bo én heel onder. In Bengali gee ek klas vir onderwysers in die armste, mees verafgeleë streke van Indië, en van my studente daar het nog nooit 'n wit mens gesien nie; party het nog nie eens 'n trein gesien nie. So, ek praat uit ondervinding van albei kante van die spektrum. En selfs daar, in daardie arm, vergete gebiede, is die omstandighede geglobaliseer."  

Sy het ook besin oor universiteite se onvermoë om by studente 'n leergierige gees te help skep sodat hulle ook hulle eie voorregte en sienings kan ondersoek.

“Ek het verlede semester vir 'n groep seniors klas gegee oor die globale universiteit. Vir die kursus het ek met studente onderhoude gevoer. Daar het ek besef dat, as gevolg van hoe ons deesdae klas gee, baie van daardie studente nie weet hoe om te 'lees' nie. Hulle kon beskryf en saamvat wat in die literatuur staan; hulle kon hulle eie gedagtes weergee en dan voorbeelde uit die teks haal om hulle gedagtes te staaf, maar hulle kon nie verstaan wat binne-in die teks gebeur nie. Selfs my beste student, 'n senior by die Universiteit van Colombia, 'n skrander student, sou my eie woorde net so terugsê. So, ek het hulle elke week laat skryf oor wat hulle gelees het, en dan my klas daarom gebou.

“Teen die einde van die klas het hierdie slim student my in my kantoor kom spreek. Maak nie saak hoe hard hy probeer het nie, hy het geweet hy het steeds nie die kuns van 'lees' bemeester nie, want hy kon nie 'die ander' verstaan nie. Hy het daar gesit en huil. Ek het na hom gekyk en gesê: 'Ek is nie jou ma nie en ek's nie jou sielkundige nie, so ek gaan jou nie troos nie, maar ek's bly dat jy nie net in woede reageer nie.' En in daardie oomblik het hy verstaan wat hy verloor het deur nie 'die ander' te verstaan nie."

Oor hierdie situasie en haar eie werk as literêre teoretikus het Spivak gesê sy glo die “geesteswetenskappe behoort met studente se siele te werk", en dat literêre analise die vakkundige se verbeelding moet strek tot ver verby wat moontlik is.

“Karakterlose leer is gevaarlik. Om enige soort leer te kan gebruik, móét jy eenvoudig 'n voorbereide siel hê."

Die “kwynende hede" waarna sy in haar paneelonderwerp verwys het, gaan volgens Spivak oor “die perke van beplanning".

“Hoe belangrik beplanning ook al vir my is, moet ons altyd beplan asof ons gaan misluk, want ongeag waarvoor ons beplan, iets sal langs die pad gebeur of verander. Tog moet jy ook beplan asof jy sukses gaan behaal. Dít is wat ek die kwynende hede noem – die toekoms is nooit seker nie."

In haar inleidende opmerkings het Spivak ook krities omgegaan met kommentaar deur Roodt, wat oor kwessies van die dekolonisasie van kennis gepraat het, en die belang daarvan om nie sekere vorme van kennis as beter te beskou bloot omdat dit op 'n sekere  plek ontstaan het nie, sowel as Nwadeyi, wat besin het oor haar ervarings toe sy as 'n student aan die Universiteit Stellenbosch slegs van Westers geskepte kennis geleer het.

“Omdat onderrig ons identiteit vorm," het Nwadeyi verduidelik, “is die kennis wat in die klaskamer aan studente oorgedra word magtig en verhewe, juis omdat dit dáár onderrig word. Aangesien ek, as 'n gekleurde persoon, slegs met kennis te doen gekry het wat deur een stel vakkundiges geskep is, het dit by my die idee versterk dat mense wat soos ek lyk of klink, nie kennis skep nie. Dít het op sy beurt 'n invloed gehad op my eie en baie ander se selfagting as gekleurde studente."

Hierdie vorm van leer op universiteit het volgens Nwadeyi die indruk gewek dat gekleurde persone nie kennisskeppers is nie, terwyl voorbeelde soos die Basotho-speletjie diketo, wat jong kinders speel, net mooi die teenoorgestelde bewys.

Nwadeyi het Zulumathabo Zulu in Basotho Origins of Mathematics aangehaal om te verduidelik: “Vir dié speletjie word 'n klomp klippies onder die spelers verdeel, met 'n gat in die grond waarin hulle dan met die klippies speel. Die speletjie is gegrond op die algebraformule f(x) = x-1. Vyfjariges speel dit en verstaan die wiskundige beginsel, maar as Sothokinders op hoërskool wiskundeonderrig ontvang, word niks van hulle lewenservarings van hierdie kinderspeletjie by hulle wiskundeleer ingesluit nie. Soveel swart kinders word groot met die idee dat hulle nie algebra of Cartesiese wiskunde kan doen nie, want niemand vertel hulle dat daar eintlik 'n weergawe daarvan in hulle eie taal of kultuur bestaan nie. Dít is waarom dit noodsaaklik is om te sorg dat opvoedkundige leerplanne relevant is en 'n weerspieëling van die ervarings van diegene wat dit moet internaliseer.

“Natuurlik is die argument dan nié dat Afrikakennis waardevol is omdat dit van Afrika kom, of Westerse kennis omdat dit uit die Weste kom nie. Die argument is dat dit noodsaaklik is dat studente hulleself kan raaksien en plaas in die kennis wat aan hulle oorgedra word, want kennisverbruik, -produksie en -toepassing vorm studente of leerders en, by implikasie, die hele samelewing se identiteit."

Oor Indië se kastestelsel en hoe die laagste klasse onderwys ontsê word, het Spivak verduidelik waarom sy besef het dit sou nutteloos wees om letterkunde te onderrig in die dorpies waar sy kom.

“In die streek in Indië waar ek klas gee, word mense selfs die reg op intellektuele werk ontsê. Daar is geen kulturele program nie, en selfs daardie laagste klasse is deurtrek van die klasvooroordele. Gevolglik is dit nutteloos om daar letterkunde te probeer onderrig. Maar deur hulle die literêre te leer, leer jy die laagste van die laes hoe om te dink, te oordeel en demokrasie te verstaan," het Spivak verduidelik.

“Demokrasie gaan nie net oor regstelling nie, maar ook oor die gelykwaardigheid van ander wat glad nie soos ek is nie en wat nie deel is van die nasiestaat nie – die heel buitenste van die buitestanders.

“Ek stel nie daarin belang om letterkunde en filosofie te onderrig nie; ek stel belang in die praktyk van die literêre, wat grense verskuif. Om te besluit wie en wat goed is, is 'n hopelose euwel. Wie weet immers regtig? Die literêre verwag van jou om ook tyd saam met moordenaars deur te bring. Daarmee sê ek nie moordenaars is goed nie, maar kan jy dit doen? Die idee om die vyand te kan innooi, is die idee van die verbeelding.

“Vir my studente aan die bopunt van die spektrum sê ek altyd: Voordat jy besluit om die hele wêreld te gaan help, dink na oor wie jy help en of dit werklik hulp is. Hulle het hierdie idee dat diegene aan wie hulle hulp verleen nes hulle is; dat om gelyk te wees beteken om dieselfde te wees. Die eerste reg is die reg om te weier, maar die hele gedagte van 'n heersende klas is juis daarop gegrond dat ondergeskiktes altyd met hulle saamstem. So, wanneer hulle – die heersende klas – tussen die arm mense is, neem hulle dikwels foto's van hulle prestasies, die dinge wat hulle vir hierdie arm mense doen, en stap dan weg, doodtevrede met hulleself."

Spivak het ook beskryf hoe sy die onderwysers in haar klas in Indië oor die belang van agentskap leer, maar terselfdertyd uitgewei oor die onvermoë van laer klasse om werklike agentskap te hê terwyl hulle inkomste kom van iemand uit 'n hoër klas wat hulle van agentskap probeer leer. “Agentskap vereis dat jy in ag neem dat daar 'n toekoms is en dat daar nóg generasies kom, en dat ongeag wat jy ook al goedgelowig beplan, daar altyd iets anders sal gebeur. Maar hoe wérk 'n mens vir 'agentskap'? As my studente gaan stem, moet hulle leer dat demokrasie nie net 'ek, ek, ek' is nie. Tog is dit steeds 'n moeilike ding om hulle te leer, want ek bestuur hulle skole en betaal hulle salarisse," het Spivak gesê.

“Dit gaan daaroor om nader te beweeg aan diegene wie se denke deur kennisbestuur gesmoor is.

“Ons moet onthou dat 'n demokratiese struktuur nie noodwendig 'n land demokraties maak nie.

“Nasionale bevryding is nie 'n revolusie nie; dit is in wese waar die mislukking van dekolonisasie begin."

Die RC07-konferensie was die eerste een wat op Suid-Afrikaanse bodem aangebied is, en 'n aantal hoëprofielakademici en -afgevaardigdes van Afrika, Asië en Latyns-Amerika wat in genderpolitiek spesialiseer, was daar.

Gouws, wat haar as professor in Politieke Wetenskap by die US op genderpolitiek toespits, het by die aanvang van die konferensie gesê die geleentheid is belangrik, “want dit bring vroue van ontwikkelende lande, oftewel 'die Globale Suide' soos dit in akademiese geledere bekend is, byeen om te gesels oor kwessies wat vir hulle belangrik is".

Benewens Spivak was ander hoofsprekers op die program prof Josephine Ahikire, 'n medeprofessor en dekaan van die Skool vir Vroue- en Genderstudies aan Makerere-universiteit in Uganda, en prof Gabeba Baderoon, 'n buitengewone professor in die US se Departement Engels en medeprofessor in Vroue-, Gender-, Seksualiteit- en Afrikastudies in die Departement Vroue-, Gender- en Seksualiteitstudies aan die Staatsuniversiteit van Pennsilvanië in die Verenigde State.

Foto: Prof Gayatri Chakravorty Spivak (vierde van links), 'n toonaangewende literêre teoretikus en feministiese kritikus van die Universiteit van Colombia, was 'n hoofspreker in 'n paneelbespreking oor “die kwynende hede by die globale universiteit". Ander paneellede was prof Vasti Roodt (tweede van links) van die Departement Filosofie, en me Lovelyn Nwadeyi (derde van links), 'n voormalige BA-student in Internasionale Studie aan die US. By die drie deelnemers is (van links) prof Nico Koopman, die US se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel; prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in genderpolitiek én organiseerder van die IPSA-konferensie, en prof Daniel Malan, Direkteur: Sentrum vir Korporatiewe Beheer in Afrika, van die US se Bestuurskool. (Anton Jordaan, SSFD)