
Sosiale Impak-oriënteringsessie
Die Afdeling Sosiale Impak het onlangs ʼn oriënteringsessie vir nuwe personeellede aangebied. Die doel van die geleentheid was om deelnemers aan sosiale impak as ʼn strategiese prioriteit van die Universiteit Stellenbosch (US) bekend te stel, soos verduidelik in die Sosiale Impak Strategiese Plan 2017–2022, ten einde oriëntering te bied tot die konsepte en praktyke van betrokke vakkundigheid en betrokke burgerskap en die steun wat deur die Afdeling Sosiale Impak gebied word, uit te lig.
Dr Antoinette Smith-Tolken, direkteur van die Afdeling Sosiale Impak, het gepraat oor die hoëronderwyslandskap en die potensiaal van die US om ʼn impak op die naskoolse onderwys- en opleidingsektor deur die instelling se vakkundigheid en aktiewe burgerskapbetrokkenheid te maak. “Die hoëronderwyssektor sal ʼn middel wees om dit uit te bou deur die kapasiteitsbou van gemeenskapskolleges. By die Universiteit Stellenbosch skep ons kennis met die samelewing en in die samelewing. Watter impak sal jou onderrig, navorsing en burgerskap met en in die samelewing hê?” het sy gevra.

Mawethu Nyakatya, Bestuurder: Verbonde Akademieskap, het gepraat oor die bestaanswyse in die akademiese wêreld, voorbeelde van akademieskap en ondersteuning vir verbonde akademieskap wat deur die Afdeling gebied word. “Uitdagings in die samelewing kan nie net deur een fakulteit of dissipline aangepak word nie; ons moet met ander saamwerk. Ons speel ook ʼn adviserende rol en help om inisiatiewe tussen die Universiteit en vennote te beplan,” het hy gesê.
Michelle Pietersen, Senior Programbestuurder: MGD, het klem gelê om die belang van skakeling met gemeenskappe om die kapasiteit van studente en personeel uit te bou. MGD bied jaarliks twee groot ervarings aan: die Sosiale Impak-oggend vir nuwe studente aan die begin van die akademiese jaar en Mandeladag in Julie om studente en personeel aan verbonde burgerskap bekend te stel. MGD bied ook opleidingskursusse in gemeenskapsontwikkeling vir personeel, studente en gemeenskapsleiers aan. “Ons bou langtermynverhoudings met gemeenskapsvennote en bied ʼn geleentheid aan studente om indienswerk te doen,” het sy vertel. MGD het ʼn vaardigheidsertifikaat vir studente ontwikkel wat die vaardighede weerspieël wat studente deur hul vrywilligeraktiwiteite ontwikkel. Die voltooiing van 100 vrywilligerure word op hul akademiese rekords aangetoon.
Avril Whate, Senior Programbestuurder: MGD, het gepraat oor haar werk wat samewerking met die regering en verskillende belanghebbendes behels om ʼn doeltreffende gesondheidsorgdiens te skep en te handhaaf. “Ons benodig ʼn holistiese benadering tot gesondheidsorg, dus sluit ons die aanvullende gesondheidsorgdienste by ons klinieke en ons uitreikaksie met Sarepta-ouetehuis in. Studente neem ook deel aan gesondheidsbevordering,” het sy gesê.
Joanne Williams, Bestuursinligtingbeampte van die Afdeling Sosiale Impak, het die waarde verbonde aan registrasie van inisiatiewe vir sosiale impak op die Sosiale Impak Platform bespreek. “Die platform maak dit vir personeel moontlik om hul aktiwiteite vir sosiale impak op te teken en die Universiteit se kundigheid en belange in ooreenstemming met die behoeftes van en samewerkingsgeleenthede met die burgerlike samelewing, die regering en besighede te bring. Dit is ʼn manier om die werk van personeel te ondersteun en te bevorder en dien op ʼn betekenisvolle manier ook as ʼn sosiale leerruimte om goeie praktyk vir sosiale impak in die Universiteit aan te moedig en ten toon te stel,” sê sy.

Deelnemers het deur die hele sessie aan besprekings deelgeneem, en het kwessies geopper soos die steiering van studentebetrokkenheid vir studente wat meer wil doen en om studente meer betrokke te maak by wat hulle leer. Vrae is ook gevra oor hoe om die versweë kennis van studente in ag te neem. Ander kwessies wat bespreek was, het gehandel oor gemeenskapsafhanklikheid teenoor die behoefte vir gemeenskappe om onafhanklik ná betrokkenheid met die US te funksioneer. Die ideaal sou ook wees vir gemeenskappe om onder mekaar te beraadslaag om die vennootskapgeleenthede te identifiseer wat aan die US voorgelê kan word. Die gevoel was dat die Universiteit as ʼn hulpbron vir alle belanghebbendes in die samelewing beskou moet word.