
Sosiale geregtigheid onder die soeklig by prof Thuli se 1ste spitsberaad
Die eerste Sosiale Geregtigheid Spitsberaad en Internasionale Konferensie aangebied deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in sosiale geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Donderdag, 29 Augustus 2019 op 'n hoopvolle noot afgeskop met verskeie hooggeplaastes en lede van die burgerlike samelewing wat byeengekom het om die konsep van sosiale geregtigheid in Suid-Afrika
Die spitsberaad en internasionale konferensie word van 29–31 Augustus by die Hazendal-wynlandgoed buite Stellenbosch gehou. Die tema is “Leveraging the Sustainable Development Goals (SDGs) and the Global Human Rights Agenda to advance Social Justice". Die doel van die spitsberaad is om 'n verklaring saam te stel waarin die verlangde toekoms rakende pogings om sosiale geregtigheid te bewerkstellig, 'n samevatting van huidige uitdagings en 'n oproep tot aksie aan die regering, sakesektor, burgerlike samelewing en akademie, sowel as die geregtelike stelsel en die wêreldgemeenskap uiteengesit word.
Prof Madonsela het by die openingsgeleentheid almal teenwoordig opnuut herinner aan die belangrikheid van samewerking om te help om die kwessies van sosiale geregtigheid in die land op te los.
“As een beseer word, word almal beseer. Solank as wat daar iewers ongeregtigheid is, kan daar nie oral volhoubare vrede wees nie. Ons is vandag hier omdat ons, net soos die Verenigde Nasies (VN), glo dat niemand moet agterbly namate die samelewing en die wêreld verder die toekoms inbeweeg nie. Ons is hier om as deel van die spitsberaad te besluit waar ons in Suid-Afrika staan betreffende sosiale geregtigheid. As ons saamwerk, sal armoede nie teen ons kan bly staan nie; dit sal tot die verlede behoort. Ons almal is nodig om 'n samelewing te skep waar daar 'n plek vir elkeen op alle lewensterreine is," het prof Madonsela gesê.
Sy het ook die Sosiale Geregtigheid M-Plan (Mosa-Plan vir Sosiale Geregtigheid) met almal teenwoordig gedeel. Die Sosiale Geregtigheid M-Plan is 'n versnellingsprogram vir sosiale geregtigheid wat daarna strewe om die proses om armoede uit te wis en teen 2030 gelyke geleenthede vir almal te bewerkstellig, te kataliseer, soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), saamgelees met die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte.
Die projek het onder meer ten doel om 'n sosiale geregtigheid-dinksentrum te vestig om die regering te help om vordering ten opsigte van sosio-ekonomiese insluiting en verwante gedeelde vooruitgang te versnel as deel van die proses om demokrasie en regsoewereiniteit te vestig.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het prof Madonsela se opmerkings in sy toespraak by die openingsgeleentheid herhaal. Hy het die belangrikheid van die M-Plan vir Sosiale Geregtigheid beklemtoon en gesê dit benodig 'n sterk bondgenootskap wat daarna strewe om armoede te beëindig en strukturele ongelykheid drasties te verminder.

“Maatskaplike uitdagings kan nie in isolasie opgelos word nie. Ons het verteenwoordigers uit alle sektore hier. Ons moet ons deel bydra – universiteite, die res van die burgerlike samelewing, die staat en ook die sakesektor. Die Universiteit Stellenbosch is daartoe verbind om kennis tot diens van die samelewing te bevorder. Ons is daartoe verbind om ten goede mee te werk aan die skep van Suid-Afrika as 'n plek wat geleenthede vir almal bied, 'n plek van voorspoed vir almal en 'n plek waar vreedsame naasbestaan volhoubaar is," het prof De Villiers gesê.
Die Suid-Afrikaanse president is deur mnr Jackson Mthembu, Minister in die Presidensie, verteenwoordig. Hy het in sy hoofrede by die opening gesê die regering is hoopvol en sien uit na die uitkomste van die spitsberaad.
Mr Jackson Mthembu, Minister in die Presidensie.
“Ons wil die Universiteit Stellenbosch daarvoor loof dat hulle die kwessie van sosiale geregtigheid uitlig in ons nasionale debatvoering. Ons het meer sulke geleenthede nodig. Hierdie spitsberaad en konferensie kom op die regte tyd sodat ons geregtigheid in terme van die verspreiding van rykdom, geleenthede en voorregte binne ons samelewing onder die mikroskoop kan plaas. Aangesien ons demokratiese bedeling vanjaar 25 jaar oud is, dwing dit ons om die teenwoordigheid van menseregte in die alledaagse lewe van mense op alle vlakke van ons samelewing te ondersoek," het mnr Mthembu gesê.
Hy het verder almal teenwoordig en die res van die land aangemoedig om nie net na die regering te kyk om oplossings vir die sosiale ongeregtighede in Suid-Afrika te vind nie. “Dit is beperkend om net die regering verantwoordelik te hou vir sosiale geregtigheid. Elkeen moet hul deel doen. Dit is belangrik om die stem van die armes te laat opklink om die pad vorentoe te bepaal. Ons is opgewonde om te sien hoe hierdie spitsberaad gaan help om met ander oplossings vorendag te kom om armoede en ongelykheid te verlig," het mnr Mthembu gesê.
Die geleentheidsprekers en hoofpaneellede vir die drie-dag spitsberaad sluit in dr Pali Lehohla, voormalige Statistiek-generaal; voormalige president FW de Klerk; Nickey Newton King, voormalige HUB van die Johannesburgse Effektebeurs, Busiswe Mavuso, HUB, Business Leadership South Africa; Ben Turok, voormalige anti-apartheidsaktivis en LP; regter Dunstan Mlambo, regterpresident in Gauteng; Ashraf Garda, media-aanbieder en ondersoekende joernalis; en Sello Hatang, HUB van die Nelson Mandela-stigting.
In 'n verklaring wat aan die einde van die eerste dag se beraad aanvaar is, het afgevaardigdes hulle kommer uitgespreek oor voortslepende armoede in Suid-Afrika, die ongelykheid wat vroue steeds ervaar, en 'n agteruitgang in sosiale samehang in ons land. Hulle het 'n oproep gedoen om versnelde verandering, en hulle daartoe verbind om kragte saam te snoer om ongelykheid in alle samelewingsektore om te keer. Deelnemers aan die konferensie die volgende twee dae het besluit om 'n koalisie van universiteite, navorsers en die burgerlike samelewing te vorm wat gekoördineerd sal werk om sosiale geregtigheid te bevorder.
'n Regstreekse stroomuitsending van die res van die spitsberaad en konferensie is op die Social Justice M-Plan Facebook-blad beskikbaar.
Fotos deur Henk Oets.