Skip to main content
Soeklig val op Taal by US-Konvokasie-vergadering

Soeklig val op Taal by US-Konvokasie-vergadering

Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
24 November 2017

​Die Universiteit Stellenbosch (US) bly verbind tot die gebruik van Afrikaans - tesame met Engels - as onderrigtaal in die konteks van inklusiwiteit en veeltaligheid, het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, aan Konvokasie-lede tydens die jaarlikse Konvokasievergadering gesê waar die belangrikheid van Taal- en die US se Taalbeleid onder die loep geneem is.

Prof De Villiers het verwys na die onlangse uitspraak in die Gelyke Kanse-hofsaak wat die proses wat die US gevolg het vir die hersiening van die Taalbeleid en die 2016-taalbeleid self, uitgedaag het. Die hof het bevind dat die US se 2016-Taalbeleid voldoen aan die vereistes van die Grondwet en volgens De Villiers het hierdie uitspraak bevestig dat die US nie sy rug op Afrikaans gekeer het nie.

"Die beginsel van inklusiwiteit is die hoeksteen van die US se huidige Taalbeleid, het prof De Villiers gesê.  “Maties word verkeerdelik deur sommiges uitgebeeld as 'n eentalige plek – nie meer Afrikaans nie maar nou volledig Engels. Dit is gewoon nie waar nie," het hy bygevoeg.

De Villiers het Konvokasie-lede na die volledige verklaring en uitspraak op die Universiteit se webwerf verwys, sowel as na die Universiteit se Taalbeleid.

In sy toespraak het dr Willem (Willa) Boezak, skrywer en navorser en gassspreker by die geleentheid benadruk dat Afrikaans nie 'n witmenstaal is nie, maar 'n integrale deel van die Khoisan se kulturele erfenis, identiteit en menswaardigheid. Dit is presies daardie denke van Afrikaans as witmenstaal wat ons moet dekoloniseer, het dr Boezak gesê. "Taal is weerloos - jy kan daarin bid, en jy kan daarin vloek. Jy kan nie 'n taal en sy sprekers weens die stomiteite van beleidmakers straf nie. 'n Taal is nie 'n weeskind nie - dit het praters, mense met stories, drome en waardes. Dit is deel van ons kultuur, ons erfenis, van wie ons is."

Vanjaar is die Konvokasie se jaarlikse gemeenskapsdiens toekenning aan sakeman en US-alumnus, Francois van Niekerk, toegeken. Hy is vereer vir sy jarelange leierskap in filantropie. Van Niekerk is die stigter van die Mertech-groep en die Mergon-stigting. Hy is ook mede-stigter van die Atterbury-groep en was voorsitter van Atterbury Investment Holdings vanaf die aanvang tot 2012. Van Niekerk, wat die boek Doing Business with Purpose geskryf het, het 'n aantal akademiese, besigheids- en filantropiese toekennings ontvang, insluitend 'n ere- doktorsgraad van Unisa.

In sy verslag aan konvokasie het prof De Villiers ook die vele hoogtepunte wat die Universiteit die afgelope jaar bereik het, gedeel.

"Vir Maties was 2017 nog 'n jaar vol hoogtepunte - waarvoor ons graag ons personeel, studente, alumni, skenkers en vennote wil bedank," het hy gesê.

"Ons het meer studente ingeskryf as ooit vantevore, en 'n rekordgetal kwalifikasies toegeken. Ons totale studenteliggaam het tot meer as 31 000 gegroei, en in die laaste volle akademiese jaar het ons 8 348 kwalifikasies, waaronder 1 468 meestersgraad en 278 doktorsgrade, toegeken."

Hy het bygevoeg dat die US sy momentum van uitnemendheid handhaaf en 'n positiewe verskil in die samelewing maak, onder andere  dat personeellede en studente die afgelope twee jaar al bykans 2 000 rookalarms in lae-inkomstehuise en informele agterplaaswonings in die groter Kaapstadgebied geïnstalleer het, wat verwoestende brande kan voorkom en lewens red en ook verwys na die Smart Water Meters wat binne die Fakulteit Ingenieurswese ontwikkel is en wat by 'n honderd skole in die droogte-geteisterde Wes-Kaap uitgerol is.

In sy verslag aan die Konvokasie, het advokaat Jan Heunis, president van die Konvokasie, gevra vir eerlike, oop  besprekings en die uitruil van idees. "Dit is 'n wesenskenmerk van 'n universiteit dat mense standpunte moet kan inneem en kan moet verantwoord. Dat ander daardie standpunte moet kan veroordeel of kritiseer, daarmee saamstem of daarvan verskil. U hoef nie my standpunte te aanvaar nie, maar ek verwag dat u my bona fides sal aanvaar," het hy gesê.

Volledige toesprake:

Foto: Dr Willa Boezak en advokaat Jan Heunis. (Fotograaf: Anina Fourie)