Skip to main content
Snoek is 'n baie goeie bron van proteïen

Snoek is 'n baie goeie bron van proteïen

Engela Duvenage
04 Junie 2017

KSUT, US navorsers snoer kragte saam om snoek se voedingswaarde te ondersoek

Vir visliefhebbers is die winter in die Kaap sinoniem met vars snoek. Dit is dus nou 'n goeie tyd om die voedingswaarde van hierdie redelik goedkoop medium-grootte seevis in oënskou te neem. Volgens ʼn nuwe studie wat in die South African Journal of Science gepubliseer is, is die vleis van ʼn snoek hoog in proteïene en belangrike omega-3 vetsure, maar laag in vet.

Die bevindings van die studie is deel van deurlopende navorsing oor die kwaliteit en waarde van snoek en ander Suid-Afrikaanse seevisspesies wat deur twee plaaslike akademici gedoen word. Die nuwe studie is voltooi deur me Sune Henning, ʼn lektor in voedselwetenskap en tegnologie aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), en vleiswetenskaplike prof Louw Hoffman van die Suid-Afrikaanse Navorsingleerstoel in Vleiswetenskap: Genomika tot Nutriomika aan die Universiteit Stellenbosch.

Slegs ʼn handvol studies is al oor die voedingswaarde van Suid-Afrikaanse seevisspesies gedoen. Daarby het slegs enkele studies al in die verlede spesifiek na rou en gaar Kaapse snoek gekyk. In die huidige studie het Henning en Hoffman vasgestel dat Kaapse snoek ʼn laevet vis is met ʼn vetinhoud van minder as 4%. Dit is in lyn met die vetinhoud van filette van pienk salm (Oncorhynchus gorbusha). Snoek het, onder meer, baie van die "goeie" vetsuur eikosapentaensuur (EPA) en die omega 3 vetsuur dokosaheksaensuur. Die EPA inhoud in die vet van rou snoek is 9,11%, en vir die vet van gaar snoek is dit 10,13%. Die DHA inhoud is 19,7% vir die vet van rou snoek en 20,28% vir gaar snoek se vet.

In die geheel het dit ʼn hoë proteïeninhoud van 24,5%, wat hoër is as dié van ander seevisspesies soos Europese stokvis (Merluccius merluccius), seebaars (Dicentrarchus labrax) en kabeljou (Gadus morhua callarias), of varswater-visspesies soos reënboogforel (Oncorhynchus mykiss) and katvis (Clarias gariepinus).

"Kaapse snoek word dikwels gesien as ʼn vis wat minder waarde het, maar in werklikheid is dit ʼn gesonde, relatief goedkoop, bron van hoë proteïen en lae vet wat hoog is in "goeie" omega 3 vetsure," som Henning die bevindings op.

 "Snoek is dus ʼn belangrike en gesonde proteïenbron," voeg Hoffman by.

Hulle het verder vasgestel dat gaarmaak die hoeveelheid vog in die vleis verminder, wat weer die proteïeninhoud daarvan verhoog.

Vir die doel van die huidige studie het die navorsingspan die proksimale analise-parameters van rou en gaar snoek vasgestel. Proksimale analise word dikwels deur voedselwetenskaplikes gebruik om te bepaal wat die belangrikste nutriënte of komponente van ʼn voedselbron is. Hulle doen dit deur die vog, as, kru proteïene , kru vet en koolhidraatinhoud van ʼn produk te bepaal – hetsy rou of geprosesseer.

"Proksimale analise help voedselwetenskaplikes ook om die kwaliteit-aspekte en sensoriese evaluering van hulpbronne te verstaan, sowel as aspekte soos die persepsie van verbruikers en die produk se uiteindelike raklewe," verduidelik Henning.

Daar is baie metodes waarvolgens snoek of enige ander stuk vis voorberei kan word – of dit mikrogolfbereiding, stoom, braai of oondbak is. "Dit is dus belangrik om te weet wat die spesifieke proksimale analise parameters van snoek is, want dit het ʼn invloed op die voedingswaarde van die vis wat geëet sal word," sê Henning, wat ook die effek van verskillende gaarmaaktegnieke op die proksimale en vetsuur-profiele van snoek ondersoek het.

"Die doel van die studie was om te bepaal wat die proksimale en vetsuur-samestelling van rou en gaar Kaapse snoek is. Ons wou die voedingswaarde daarvan kwantifiseer en die inligting beskikbaar stel aan verbruikers en verwerkers, sodat dit gebruik kan word as deel van die voedingstabelle van Suid-Afrikaanse kossoorte en in akademiese databasisse," verduidelik prof Hoffman.

Die navorsingspan het die weefselmonsters van tien gevlekte snoek (Thyrsites atun) in die laboratorium van die Departement Veekundige Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch geanaliseer.

Die studie is deel van 'n voortgesette nagraadse navorsingsamewerking- en ondersteuningsprojek tussen KSUT en US. Henning en Hoffman het al hul kragte oor die afgelope sewe jaar saamgesnoer om aspekte van snoek en ander soorte vis as voedingsbron te bestudeer. MTech studente van KSUT wat aspekte van visweefsel ondersoek, maak byvoorbeeld gereeld gebruik van die navorsingfasiliteite wat beskikbaar is by die Universiteit Stellenbosch se Departement Veekundige Wetenskappe, tuiste van die SARChI Navorsingstoel.

Verwysing: Henning, S.S. & Hoffman, L.C. (2017). Proximate and fatty acid composition of cooked South African Cape snoek (Thyrsites atun), South African Journal of Science, Mei 2017