
Shofar-kerk skenk kos aan studente
Aangedryf deur hul passie en liefde vir mense, het lede van die Shofar Christelike Kerk op Stellenbosch meer as 750 kospakkies uitgedeel aan studente van die Universiteit Stellenbosch (US) wat in die koshuise agtergebly het gedurende die tydperk van algehele inperking.
“Ons is daartoe verbind om soveel ondersteuning as moontlik binne ons vermoëns te verskaf; ons kies om aktief deel van hierdie Stellenbosse gemeenskap te wees," sê die woordvoerder van die kers, mnr Sias le Roux.
Le Roux sê hulle wil die studentegemeenskap wys dat hulle omgee vir hulle en wil net hê dat hulle in hierdie moeilike tye nader aan God beweeg.
“Ons gee nie voorwaardelik met die hoop dat ons iets gaan terugkry nie; ons word deur die liefde van Christus genoop om die gemeenskap waarvan ons deel is, te ondersteun."
Volgens Le Roux strek Shofar se verhouding met die US sover terug as 1991 toe die kerk homself daartoe verbind het om studente te dien deur as 'n studentevereniging te registreer.
Hy sê hulle het as 'n kerk in hul eie gemeente van meer as 1 000 studente bewus geword van die studente se behoeftes. “Dit is nie die eerste keer dat ons die Universiteit ondersteun nie.
“Ons deurlopende ondersteuning is deel van ons verbintenis aan die Stellenbosse gemeenskap. Die mees onlangse voorbeeld is die rampspoedige voorval van die brand by Huis ten Bosch, waar ons verskeie hulpbronne aangewend het om ondersteuning aan diegene wat geraak is, te verskaf," voeg hy by.
Le Roux het Pioneer Foods vir die ruimhartige skenking bedank. “Ons is ook betrokke by die uitdeel van kospakkies in die Cloetesville- en Kayamandi-gemeenskappe hier op Stellenbosch," sê hy.
Die US se Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, dr Leslie van Rooi, het die Shofar-kerk bedank vir hul bereidwilligheid en pogings om sowat 800 kospakkies aan die US-studente te skenk.
“Ons is dankbaar om dit te ontvang en baie dankie dat julle nie net aan op kampus uitgedeel het nie, maar dat julle ook voedselsekerheid in kwetsbare gemeenskappe op en rondom Stellenbosch ondersteun," het hy gesê.
Lewis Mboko, voorsitter van die Studenteraad (SR), het gesê hulle is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hulle as studente ontvang het. “Ons gaan dalk deur 'n moeilike tyd, maar hierdie is oomblikke wat ons wys hoe die gemeenskap kan saamwerk om dieselfde doel te bereik," het hy gesê.
“Ons moenie hier ophou nie. Ons moet aanhou met hierdie wonderlike werk om ander gemeenskappe in nood te ondersteun. As studenteleiers werk ons tans daaraan om met studente wat nie op kampus woon nie, maar wat agtergebly het vir die algehele inperking, in aanraking te kom sodat hulle ook die nodige ondersteuning kan kry," het Mboko gesê.
Die kospakkies wat deur die Shofar-kerk geskenk is, het onder meer 1 kg hawermout, twee pakkies noedels, vier vrugtestafies, suiker, melk en aartappelskyfies ingesluit, asook 'n telefoonnommer wat mense met gebedsversoeke en wat verdere ondersteuning benodig, kan skakel.
Die volgende rondte skenkings sal op 10 April 2020 gedoen word. Studente word aangemoedig om om 'n WhatsApp-boodskap of SMS na 0812535574 vir bykomende kospakkies.