
Senaat aanvaar konsep-taalbeleid met groot meerderheid
Die Senaat van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Donderdag 9 Junie 2016 die finale weergawe van die konsep-taalbeleid (soos op die US se webblad) met die voorgestelde wysigings daarin opgeneem, met ʼn groot meerderheid van stemme aanvaar.
Verlede Vrydag (3 Junie 2016) het die Senaat by ʼn geskeduleerde vergadering die Taalbeleidhersieningswerkgroep versoek om raakvlakke tussen die Suid-Afrikaanse Grondwet en die konsep-taalbeleid duideliker in die dokument uiteen te sit, en om verdere aandag te gee aan taalimplementering. Die werkgroep het op Maandag 6 Junie die voorstelle bespreek en wysigings aangebring waarna ʼn nuwe weergawe voor die spesiale vergadering aan Senaatslede versprei is.
Die oorspronklike finale konsep-taalbeleid sal saam met die Senaat se voorgestelde wysigings vir oorweging by die Raadsvergadering op 22 Junie 2016 voorgelê word. Die Institusionele Forum het vroeër vandeesweek die konsep-taalbeleid (dieselfde weergawe met wysigings as wat vandag by die Senaat gedien het) eenparig aanvaar.
Die Senaat het vandag (9 Junie 2016) by sy spesiale vergadering die volgende mosie met 113 stemme teenoor 10 aangeneem:
- Die Senaat aanvaar die voorgestelde konsep-taalbeleid met die wysigings soos aanbeveel deur die UK(S) op 1 Junie 2016, asook die voorgestelde wysigings soos deur die Taalbeleidshersieningswerkgroep op 6 Junie 2016 geformuleer. Met ander woorde, dat die konsep-taalbeleid met al die wysigings soos aan lede van Senaat gesirkuleer vir hierdie vergadering en met dit wat die Senaat vandag (Donderdag 9 Junie) bygevoeg het, aanvaar word;
- Die Senaat beveel hierdie konsep-taalbeleid met die genoemde wysigings aan na die Universiteitsraad vir goedkeuring;
- Die Senaat spreek sy dank uit aan almal wat hard gewerk het aan hierdie voorgestelde nuwe Taalbeleid.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, en ook Voorsitter van die Senaat, het na afloop van die vergadering sy tevredenheid met die besluit uitgespreek. "Ons het die voorgeskrewe proses vir die hersiening van die Taalbeleid gevolg. Dit is binne ʼn baie knap tydsraamwerk voltooi wat groot druk op die Taalbeleidshersieningswerkgroep en ander personeel geplaas het, juis omdat ons ʼn verskeidenheid belangegroepe voldoende tyd wou gee om kommentaar te lewer. Hoëronderwysinstelling word dikwels daarvan beskuldig dat ons besluitnemingsprosesse omslagtig is en lank neem. Met hierdie proses het ons geïllustreer hoe die Universiteit Stellenbosch vinnig, maar deeglik en met wye konsultasie, kon reageer op die veranderende behoeftes van ons kampusgemeenskap."
"Ons is van mening dat die finale konsep van die Taalbeleid saam met die Senaat se voorgestelde wysigings voldoen aan die vertrekpunte in die Universiteitsraad se mosie* van 30 November 2015, wat die Raad onlangs weer herbevestig het: dat 'taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie'. Soos die Raad beskou die Senaat die US se meertalige aanbod as ʼn strategiese bate wat as ʼn kompeterende voordeel uitgebou behoort te word."
Die Senaat het verlede Vrydag met ʼn groot meerderheid van stemme ʼn mosie aanvaar waarin sy ondersteuning vir die finale konsep-taalbeleid uitgespreek is. In dié mosie het die Senaat die Taalbeleidshersieningswerkgroep versoek om sekere aspekte van die konsep-beleid te heroorweeg en te herformuleer, en om ʼn verdere weergawe van die konsep-taalbeleid aan Senaatslede te stuur voor ʼn spesiale Senaatsvergadering op Donderdag 9 Junie 2016.
Die Senaat van ʼn openbare hoëronderwysinstelling is verantwoordbaar aan die Raad ten opsigte van die akademiese en navorsingsfunksies van die instelling. By die Universiteit Stellenbosch bestaan die Senaat van meer as 300 lede uit die Rektor en sy bestuurspan; twee raadslede; vier lede van die Studenteraad; alle professors van die US; vyf mede-professors; lede verkies deur onderskeidelik die akademiese (buiten professore en mede-professore), administratiewe en tegniese personeel; en addisionele ex officio lede.
Volgens die Statuut van US bepaal die Universiteitsraad die instelling se taalbeleid met instemming van die Senaat.
* UIT DIE RAADSMOSIE VAN 30 NOVEMBER 2015
"Die Raad verklaar onomwonde dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie. Daarom versoek die Raad die Bestuur om met die oog hierop die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die Raad geniet.
"Tegelykertyd verklaar die Raad dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie. Die Raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word. Die Raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ʼn strategiese bate vir US beskou word en as ʼn kompeterende voordeel uitgebou moet word."