
SANZAF sit ondersteuning aan verdienstige studente voort
Te danke aan die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Zakáh-fonds (SANZAF) het 56 studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) vanjaar beurse ter waarde van meer as R570 000 ontvang.
SANZAF is ʼn godsdienstige organisasie wat deur sosio-ekonomiese bystand en onderwys daarna streef om behoeftige families te bemagtig. Die organisasie doen dit deur die doeltreffende insameling en verspreiding van Zakáh (die reiniging van ʼn individu se rykdom deur ʼn spesifieke gedeelte aan behoeftiges te skenk).
Die meerderheid van vanjaar se beurshouers studeer by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Tydens ʼn funksie wat onlangs by die fakulteit gehou is, het verteenwoordigers van SANZAF ʼn tjek ter waarde van R570 662 oorhandig. Mnr Ismail Matthews van SANZAF het gesê die organisasie stel sy verhouding met die US hoog op prys en sal graag verder saam met die universiteit wil werk.
Matthews is ʼn voorvegter van die SANZAF Education Empowerment and Development-projek (SEED). Deur hierdie projek en sy beursfonds het SANZAF dit ten doel om jong mense op te hef en te bemagtig deur te fokus op kennis en vaardigheidsopleiding. Matthews het gesê daar word nie van beurshouers verwag om die geld terug te betaal nie, maar hulle word wel aangemoedig om terug te gee deur onder meer vrywilligerswerk.
Prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW, het gesê hy wil sy diepe dankbaarheid teenoor SANZAF uitspreek vir die geruime tyd wat hulle reeds studente van die US en FGGW ondersteun. "Wêreldwyd word die gaping tussen die rykes en die armes net al hoe groter. Julle het ʼn baie bewonderenswaardige model. Die idee dat mense wat bystand ontvang aangemoedig word om op hulle beurt terug te gee is pragtig. As ons as ʼn land meer daarvan kan doen sal ons in ʼn baie beter situasie wees."
Me Yasmina Franke, SANZAF se Algemene Bestuurder in die Wes-Kaap, het gesê die organisasie is baie opgewonde oor sy verhouding met die US, en die aantal studente aan die universiteit wat deur SANZAF ondersteun word, het oor die laaste vyf jaar meer as verdubbel. "Ons hoop om ons verhouding verder uit te brei en moedig studente aan om die US as ʼn voorkeur-onderriginstelling te sien," het sy gesê.
Foto (van links na regs): me Aneesah Rylands, mnr Ismail Matthews, me Yasmina Franke (almal van SANZAF), prof Jimmy Volmink (FGGW) en me Faeza Govind (SANZAF) by die funksie.