Skip to main content
Samewerking tussen UNAIDS en die US kan tot baanbrekersnavorsing lei

Samewerking tussen UNAIDS en die US kan tot baanbrekersnavorsing lei

Africa Centre for HIV/Aids management
23 Junie 2023

Ná 'n positiewe verhouding van meer as twee dekades tussen die Universiteit Stellenbosch se Afrika Sentrum vir MIV/vigsbestuur en UNAIDS het twee senior amptenare van hierdie prominente internasionale instelling die universiteit vir die eerste keer op 14 Junie besoek om verdere samewerking te bespreek.

Me. Eva Kiwango (Suid-Afrika se UNAIDS-direkteur) en me. Jennifer Baumann (senior strategiese inligtingsadviseur van UNAIDS SA) is tydens die besoek ontvang deur prof. Sibusiso Moyo (adjunk-visekanselier: navorsing, innovasie en nagraadse studies) en dr. Munya Saruchera (interim-direkteur van die Afrika Sentrum). Kiwango was in Februarie verlede jaar die hoofspreker by die Afrika Sentrum se somerskool vir studente wat die nagraadse diploma in MIV/vigsbestuur doen, asook by die werksessie vir meestersgraadstudente in April vanjaar.

“Dit was wonderlik om me. Kiwango en me. Baumann te ontmoet en met hulle te vergader," het Moyo gesê. “Die universiteit se verbintenisse met organisasies soos UNAIDS, vir wie navorsing en innovasie van kernbelang is, moet gekoester en versterk word."

Sy het bygevoeg dat die besoek se tydsberekening perfek was, aangesien die universiteit saamwerk met 'n aantal universiteite in Afrika en Europa om die vier sentrale areas te takel wat in die AU-EU-innovasieagenda geïdentifiseer is ─ openbare gesondheid, ekologiese vernuwing, innovasie en tegnologie, asook wetenskaplike vermoë. “Ons sien uit daarna om die vennootskap wat die Afrika Sentrum oor baie jare met UNAIDS ontwikkel het te versterk deur verskeie inisiatiewe wat nie net tot MIV/vigsverwante navorsing en vaardigheidsopleiding beperk is nie, maar kan lei tot verskeie gesondheidsinisiatiewe in samewerking met die breër VN."

Die besprekings het die potensiaal van groter samewerking tussen VN-agentskappe in Suid-Afrika wat maatskaplike, politieke en ekonomiese bepalers van gesondheid hanteer uitgelig, asook die universiteit se inisiatiewe op die gebied van wetenskap en gesondheidsbestuur en verwante aktuele aspekte soos klimaatsverandering en digitale gesondheid. Samewerking en data-uitruiling op daardie vlak, intern by die universiteit sowel as met die VN, kan 'n merkbaar positiewe impak op die universiteit se gesondheidsnavorsingsuitsette hê. 

Optimalisering van navorsingwerk is die grondslag van volhoubare verandering 

Nadat die potensiaal vir samewerking met die VN om die universiteit se breër gesondheidsinisiatiewe te koördineer bespreek is, het die UNAIDS-verteenwoordigers na die Afrika Sentrum beweeg om die pad vorentoe vir hierdie konstruktiewe vennootskap te verken. UNAIDS het die afgelope 24 jaar verskeie kere fondse aan die Afrika Sentrum toegeken, onder meer in 2019 en 2021, vir impakgevallestudies oor mensgesentreerde en gemeenskapsgeleide dienslewering rakende MIV en seksuele voortplantingsgesondheid in Oos- en Suider-Afrika. Hierdie fondse speel 'n noodsaaklike rol in die sentrum se vermoë om aan hulle navorsingsmandaat te voldoen.

“Sub-Sahara Afrika het steeds die hoogste MIV/vigssyfers ter wêreld. Gelokaliseerde, doelgerigte navorsing bly die eerste stap om die grootste uitdagings en hindernisse met betrekking tot die pandemie, algemene gesondheid en verwante kwessies soos klimaatsverandering, gelykheid, finansiering en impakdata te identifiseer en te hanteer," het Saruchera gesê. “Toegang tot die jongste internasionale kundigheid, wat moontlik gemaak word deur globale samewerking soos ons s'n met UNAIDS, stel ons in staat om ons navorsingswerk en die implementering van ons bevindings te optimaliseer om volhoubare verandering teweeg te bring."

Een van die doelwitte van die vergadering was addisionele befondsing vir die Afrika Sentrum se MPhil- en PhD-studente. Fondse sal ook gebruik word vir navorsing regoor Suider-Afrika, met 'n fokus op spesifieke MIV/vigsverwante en algemene gesondheidskwessies. Dit sluit in gemeenskapsgeleide MIV-monitering, MIV en veroudering, MIV en jeug wat werkloos is of nie studeer of andersins opgelei word nie, gelyke toegang tot behandeling vir kinders wat met MIV gebore is, MIV-voorkoming en -behandeling, stigma en selfdood onder veral  jong vroue, ongelyke gesondheidsinvestering en -begrotings, en die dinamiek tussen gesondheid (met 'n fokus op MIV/vigs en TB), korrupsie en klimaatsverandering.

Die Afrika Sentrum bied van die omvattendste opleidingsprogramme in MIV/vigsbestuur ter wêreld aan. Die kursusse bemagtig individue, organisasies en gemeenskappe om leiding te neem wat pandemieverwante kwessies betref, van individuele tot bestuursvlak. Afgesien van die nagraadse programme werk die sentrum saam met plaaslike, nasionale en internasionale instellings (soos UNAIDS) om navorsing te doen oor verskeie kwessies rondom MIV/vigs en die werkplek.

In ag genome die universiteit se “Saam vorentoe"-visie vir 2040, is die bestaande vennootskap tussen die Afrika Sentrum en UNAIDS, tesame met die potensiaal vir samewerking met die breër VN, perfek in pas met die universiteit se doelwitte.

Onderskrif: Die US se dr Munya Saruchera (links) en prof Sibusiso Moyo (regs) neem 'n selfie saam met die UNAIDS-verteenwoordigers Jennifer Baumann (tweede van links) en Eva Kiwango.

Foto: Liam Hamer-Nel, Pro Alliance Photographic​