
SA vroue en diabetes
Wêrelddiabetesdag word op 14 November gedenk en 2017 se tema is Vroue en diabetes – ons reg op ʼn gesonde toekoms.
Vroue is gewoonlik die primêre versorgers in die gesin en speel ʼn kernrol in die langtermyn-gesondheidstatus van kinders en ander lede van die huishouding. Die toename in leefstylsiektes soos vetsug, diabetes en hartsiektes verg ʼn groter bewustheid van die belangrikheid van gesonde kos- en drankkeuses om tot die bereiking en handhawing van ʼn gesonde liggaamsgewig by te dra.
Swanger vroue het ʼn verhoogde risiko om ʼn spesifieke tipe diabetes te ontwikkel, naamlik swangerskap-diabetes mellitus (SDM). Hierdie toestand ontwikkel tydens swangerskap, kan ernstige komplikasies hê en dit bring mee dat ma en kind die gevaar loop om later in hul lewe diabetes te ontwikkel.
Insulienweerstandigheid en verhoogde bloedsuikervlakke kom algemeen gedurende swangerskap voor en maak sommige vroue vatbaar vir SDM. Swak bloedglukosebeheer tydens swangerskap kan die ma se gesondheid nadelig raak, geboortekomplikasies veroorsaak en die baba se risiko vir die ontwikkeling van vetsug en diabetes verhoog.
Ken die SDM-risikofaktore
SDM kom meer algemeen voor in:
- Ouer vroue;
- Oorgewig vroue (LMI bo 30);
- Vroue wat rook;
- Vroue wat gedurende vroeëre swangerskappe SDM gehad het;
- Swangerskappe wat kort op mekaar volg;
- Vroue wat voorheen ʼn onverklaarde stilgeboorte geskenk het;
- Vroue wat voorheen ʼn baba met ʼn baie hoë geboortegewig gehad het (4,5 kg of hoër);
- Vroue met ʼn onmiddellike gesinslid (ouer of sib) met diabetes.
Meer oor vroue en diabetes:
- Die meeste gevalle van hiperglisemie (hoë bloedsuikervlakke) tydens swangerskap kom in lae- en middelinkomstelande voor, waar toegang tot moedersorg dikwels beperk is.
- Diabetes is wêreldwyd die negende grootste oorsaak van dood by vroue en veroorsaak jaarliks 2,1 miljoen sterftes.
- Daar is ʼn bykans tienvoudige groter waarskynlikheid dat vroue met tipe 2-diabetes hartsiektes sal ontwikkel vergeleke met vroue sonder dié siekte.
- Vroue met tipe 1-diabetes het ʼn verhoogde risiko van ʼn vroeë miskraam of ʼn baba met misvormdheid en moet gespesialiseerde mediese en voedingsterapie tydens hul swangerskap ontvang.
- Wêreldwyd word een uit sewe geboortes deur swangerskapsdiabetes geraak.
- Sowat die helfte van vroue met ʼn geskiedenis van SDM ontwkkel tipe 2-diabetes binne vyf tot tien jaar nadat hulle geboorte geskenk het.
- Die helfte van alle gevalle van swangerskap-hiperglisemie kom by vroue onder die ouderdom van 30 jaar voor.
- Tot 70% van tipe 2-diabetesgevalle kan deur ʼn gesonde lewenstyl voorkom word.
Aanbevelings vir Suid-Afrikaanse vroue
Suid-Afrikaanse vroue kan die volgende wenke volg om hul kanse te verminder om SDM tydens hul swangerskap te ontwikkel:
- Handhaaf ʼn gesonde liggaamsgewig en voorkom oorgewig;
- Doen gereeld oefeninge;
- Moenie rook nie;
- Laat tyd tussen swangerskappe toe;
- Woon die postpartum-ondersoek ná ses weke by en laat ʼn bloedsuikertoets doen.
Vyftien dieetaanbevelings om diabetes te voorkom en behandel
- Eet ʼn verskeidenheid van kosse tydens elke maaltyd om seker te maak jou dieet bevat genoeg voedingstowwe en dat jy dit meer geniet.
- Insulienweerstandigheid word verbeter as jy net 5-10% van jou liggaamsgewig verloor. Verloor gewig as jy oorgewig is, veral voor ʼn beplande swangerskap.
- Eet minstens drie gebalanseerde maaltye per dag.
- Drink minstens ses tot agt glase water per dag.
- Verhoog jou veselinname deur die volgende te eet:
- volgraan- pleks van witbrood;
- hawermout, hawersemels of volgraanontbyte, bv. grane met ʼn hoë veselinhoud vir ontbyt;
- baie groente en vrugte;
- peulvrugte (ertjies, lensies, bone en soja), en sluit gort, stampmielies, bruin rys en volgraanpasta by jou dieet in.
Verkry toegang tot die Suid-Afrikaanse kosgebaseerde dieetriglyne en -aanbevelings vir gesonde eetgewoontes en gewigsverlies by: http://www.sun.ac.za/english/….
Vir meer inligting, kontak Nicus of ʼn dieetkundige wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is.
Verwysings uit die wetenskaplike literatuur wat gebruik is om hierdie dokument saam te stel is op versoek beskikbaar.
Foto: PIXABAY