
SA swemhelde neem deel aan Swem Grand Prix by Coetzenburg
Met die Olimpiese Spele wat om die draai is, gaan Suid-Afrika se swemhelde, Chad le Clos en Cameron van der Burgh, die Swem Grand Prix wat tussen 26-28 Februarie by Coetzenburg gehou word, as voorbereiding gebruik vir die SA Nasionale Akwatiese Kampioenskap in April.
Die nasionale kampioenskap sal as kwalifiserende byeenkoms vir die Olimpiese Spele dien.
Dit sal die tweede keer wees dat die Grand Prix-byeenkoms in Coetzenburg se supermoderne Olimpiese grootte swembad gehou word.
Chad le Clos, wat verlede jaar al vier items waaraan hy deelgeneem het – die 100m-vlinderslag, 100m-vryslag, 200m-rugslag en 50m-vlinderslag – gewen het, is opgewonde om na Coetzenburg terug te keer.
"Ek is mal daaroor om in Stellenbosch deel te neem. Die dorp met sy pragtige berge is soos 'n vars briesie. Ek geniet dit só om in 'n oop 50m-swembad met baie ondersteuning langs die bad te kan deelneem. Die Coetzenburg-swembad is die enigste een in SA wat die nuwe Omega-wegspringblokke het, wat 'n groot verskil aan die tyd maak."
Deelname aan hierdie byeenkoms sal hom 'n aanduiding gee van waar hy tans met sy oefenprogram staan.
"Ek hoop om die tye te swem wat my afrigter in hierdie stadium van my oefenprogram, in die opbou tot Rio, van my verwag."
Cameron het nog nooit in Stellenbosch meegeding nie, maar sien uit na hierdie geleentheid.
"Ek het gehoor verlede jaar was 'n groot sukses en dat daar baie ondersteuning was," het hy gesê.
Hy beskou hierdie byeenkoms as resies-oefening: "Ek het nie te veel resies-voorbereiding gedoen terwyl ek geoefen het nie en is daarom bly om die kans te kry om te kan meeding voor die kwalifiserende proewe in April."
Pierre de Roubaix, hoofafrigter van swem en sportbestuurder by die Universiteit Stellenbosch, het gesê dit is 'n eer om hierdie internasionale byeenkoms in samewerking met WP Akwatiese Sport en Swem Suid-Afrika aan te bied.
"Ons is in ons skik dat bekende swemmers soos Chad en Cameron sowel as 'n aantal Olympiese-vlak internasionale spanne sal deelneem. Dit is 'n rare geleentheid om soveel Olimpiese swemmers en kampioene in Stellenbosch te sien te kry."
Plaaslike swemmers Caitlin Kat, Emma Chelius, Liam Fourie en Anika Kruger, almal lede van die Maties-swemspan wat verlede jaar die USSA-kampioenskap gewen het, sal ook in aksie wees. Internasionale swemmers uit die buiteland, wat lande soos Swede en Groot Brittanje insluit, sal ook deelneem.
Om kaartjies te koop, kontak Lorinda by [email protected] of by 021 808 4925. Kaartjies kan ook met kontant of kaart daagliks tussen 14:00-16:00 van 22-26 Februarie voor die Maties Gimnasium gekoop word.
Program en kaartjiepryse:
26 Februarie 2016 – 17:00 uitdunne R50 per persoon 27 Februarie 2016 – 10:00 finale R120 per persoon 27 Februarie 2016 – 17:00 uitdunne R50 per persoon 28 Februarie 2016 – 10:00 finale R120 per persoon