
SA ambassadeur in Ierland besoek Dublinse Maties vir eerste Maties-in-Ierland-geleentheid
Vyftig alumni in Dublin het in Julie vanjaar aangesit vir 'n dinee saam met prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, en die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Ierland, Haar Eksellensie me Yolisa Maya, by Pielows-restaurant.
Met 'n rapsie meer as 200 alumni in Ierland waarvan ons bewus is, was dit wonderlik om byna 'n kwart van hulle vir die eerste keer te kon byeenbring om nie net die alumnispan nie, maar ook mekaar te ontmoet.
In haar openingsrede het die ambassadeur gesê: “Ek wil graag die Universiteit Stellenbosch gelukwens met hoe hulle op wêreldskaal na hulle alumni uitreik. Ek verneem dit is deel van 'n groter inisiatief om na oudstudente oor die hele wêreld uit te reik. Dit is reeds duidelik dat hierdie interaksie waardevolle lesse inhou vir ons as 'n land én as die ambassade in Dublin."
Die ambassadeur het die oudstudente aangemoedig om dit uit hulle gemaksones te waag en met mekaar kontak te maak, veral noudat hulle in 'n vreemde land woon en werk:
“Ons het mekaar nou nodiger as ooit vantevore om ons land te herbou en die ekonomie, wat hardnekkig stagnant bly, weer te laat vlamvat," het sy gesê. “Teen daardie agtergrond wil ek julle graag vra om, gedurende julle verdere skakeling en oordenking vanaand en in die tyd wat voorlê, dit ernstig te oorweeg om op die volgende gebiede met ons saam te werk:
- Om 'n strategie te ontwikkel en te implementeer om die dividend op ons Suid-Afrikaanse diaspora (waaronder mense, kennis en finansies wat die land om verskillende redes verlaat het) te optimaliseer en ons intellek en jong talent te oorreed om nie bande met Suid-Afrika te verbreek nie, maar om ná hulle wêreldreise terug te keer om te herbelê, waarde toe te voeg en hulle portuur te bemoedig.
- Om die narratief oor ons land daar buite, waar ons ook al is, te verander deur positief oor die land te praat. Dít beteken ons moet hard werk om na daardie dinge te soek wat ons saambind, selfs al moet 'n mens op die oomblik taamlik diep delf!
- Om ons van jou gedagtes te vertel oor hoe ons die president en die regering se goeie voornemens en strategieë kan help implementeer terwyl ons ook ons jeug se drome bewaarheid – veral deur ons te vertel op watter sinvolle maniere ons dit makliker kan maak om sake te doen ten einde beleggings, handelsvennote en toerisme te lok."
Dit was ook 'n voorreg om prof De Villiers die aand daar te hê nadat hy die dag individueel by 'n paar alumni besoek afgelê het.
Ons stel in Oktober 2019 'n Dublin Maties-hub bekend. As jy wil deel wees daarvan óf van die beplanningspan, kontak my by [email protected].