
Rektorstoekenning perfekte manier om studentelewe af te sluit
“Ek het nooit gedink ek sal die voorreg hê om 'n Rektorstoekenning te ontvang nie. Dit is die perfekte manier om my studentelewe af te sluit," sê Hannah Calvert, kaptein van die Maties Vrouewaterpolospan en lid van die Suid-Afrikaanse Waterpolo-oefengroep.
Calvert, 'n BA Sosiale Wetenskappe-finalejaarstudent, is een van vanjaar se 82 ontvangers van die jaarlikse Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie. Die toekennings gee erkenning aan en vier studente se prestasies op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Calvert het die toekenning in die sportafdeling ontvang en voeg dit by 'n lang lys van talle groot oomblikke in haar lewe.
Calvert, wat in graad 4 “oombliklik op waterpolo verlief geraak het", het haar stempel afgedruk op die nasionale en internasionale sportgebied.
Sy was lid van die Suid-Afrikaanse Senior Vrouespan wat aan die EU-Nasiestoernooi in Praag in die Tsjeggiese Republiek, die Interkontinentale Waterpolo-kampioenskap in Sidney, Australië en onlangs aan die Olimpiese Spele in Tokio deelgeneem het.
Met verwysing na haar ervaring by die Tokio Olimpiese Spele, sê sy dit was een van die grootste oomblikke in haar lewe om vir die span gekies te word. “Dit was die surrealistiesste oomblik in my waterpolo-loopbaan. Ek het nooit gedink dat ek die span sou haal nie."
Volgens Calvert het voorbereidings vir die keuring reeds in April 2020 begin en weens die COVID-19-inperking moes sy regstreekse gimnasiumsessies aanlyn bywoon en op 'n stilstaande fiets oefen. Sy het in Desember 2020 die geleentheid gehad om die eerste oefenkamp en keuringsproses in persoon by te woon. Dit is gevolg deur maandelikse keuringsprosesse.
Sy beplan om in Mei aanstaande jaar aan die Fédération Internationale de Natation Waterpolo-wêreldkampioenskap in Japan en in Julie aan die 2022 Statebondspele in Birmingham, Engeland deel te neem. Sy sal na afloop van hierdie kompetisies waterpolo vir 'n rukkie eers opsy skuif sodat sy kan werk en reis.
“Ek gaan vir 'n paar maande by 'n somerkamp in Amerika werk, waarna ek die res van volgende jaar by 'n ski-oord in Europa sal deurbring. Ek sal steeds fiks bly, want ek beplan om aan die 2024 Olimpiese Spele in Parys deel te neem."
Maar vir eers wil Calvert net die laaste paar weke van haar studentelewe op Stellenbosch geniet. “My studentelewe was ongelooflik en ek het die mens geword wat ek altyd wou wees."
Klik hier om meer te lees oor die toekennings en al die ontvangers.
* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer. Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.