Skip to main content
Prosesingenieurswese vier 50 jaar

Prosesingenieurswese vier 50 jaar

Liesel Koch
20 September 2019

"Die Departement Prosesingenieurswese het tot stand gekom in 'n redelik uitsonderilke jaar, 1969. In dieselfde jaar het 'n monsteragtige Saturn V-vuurpyl 'n gesamentlike volume van 3,5 miljoen liter kragparaffien, vloeibare suurstof en vloeibare waterstof ingeswelg en drie ruimtevaarders tot by die oppervlak van die maan geskiet; inderdaad 'n baie besonderse jaar," het prof André Burger in sy verwelkomingsrede op die Departement Prosesingenieurswese se nagraadse konferensie gesê. Hierdie konferensie is op 13 September gehou ter viering van die Departement se 50ste bestaansjaar.

Prof Burger gaan voort: "'n Halfeeu later keer skerpsinnige en internasionaal bekroonde navorsers – trotse produkte van hierdie departement – terug na hul alma mater as hoofsprekers tydens hierdie 50-jarige vieringsgeleentheid. Hulle sal saam met nagraadse studente as voorbeelde dien van die hoë gehalte mense en navorsingswerk wat deur die departement opgelewer is."

Die konferensie is gevolg deur 'n Galadinee by die Lanzerac Hotel op Stellenbosch, waar akademici en bedryfsvennote die Departement se mylpaal in styl gevier het. 'n Hoogtepunt was toe drie voormalige en twee huidige akademici met unieke, glasgeblaasde trofeë vir hul bydrae vereer is, naamlik wyle prof Nico Louw (stigter en buitengewone bydraer), prof Jannie van Deventer (uitsonderlike navorsingsbydrae) en Carel Nel, prof Hansie Knoetze en prof Steven Bradshaw (al drie vir buitengewone langtermynbydraes).

Die Departement Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch is in 1969 gestig – 25 jaar ná die Fakulteit Ingenieurswese. Prof Nico Louw was die eerste professor en voorsitter van die departement. In 1977 word die spesialisasie in ekstraktiewe metallurgie ingestel en het studente die keuse gehad om óf 'n BIng (Chemiese Ingenieurswese) óf 'n BIng (Chemiese Ingenieurswese – spesialisasie Ekstraktiewe Metallurgie) te doen. Dit het in 1985 tot 'n afsonderlike Departement Metallurgiese Ingenieurswese gelei, maar die twee departemente is in 1994 weer geamalgameer om die Departement Chemiese Ingenieurswese te vorm. In die vroeë 2000's is die naam verander na die huidige Departement Prosesingenieurswese.

Prof Hansie Knoetze, voormalige dekaan en waarnemende voorsitter van die departement, sê: "Prof Louw sal onthou word vir sy werk in die ontwikkeling van die Chemiese Ingenieurswese-program en die ontwikkeling van studiemateriaal in Afrikaans. Die eerste drie senior lektore in die departement het by hom aangesluit, naamlik Carel Nel, dr Eric Horsten en dr Mike Connor. Prof John de Kock is aan die einde van 1976 aangestel as die eerste professor in ekstraktiewe metallurgie.

"Aanvanklik is die departement in die ou Ingenieursgebou in Victoriastraat (die huidige Visuele Kunste-gebou) gehuisves, en die laboratoria was in die huidige Polimeerwetenskapgebou. Die departement het in 1979 na die huidige Ingenieursgebouekompleks verhuis, en teen 2011 het die studentegetalle in só 'n mate verhoog, dat die Anneks gebou moes word.

"'n Uitstekende voorgraadse program, toegewyde akademici en uitstekende laboratoriumfasiliteite was nog altyd 'n kenmerk van die departement. Werkgewers was nog altyd baie beïndruk met die gehalte van gegradueerdes van die departement.

"Vanaf die tagtigerjare het nagraadse opleiding en navorsing 'n toenemende rol in die departement begin speel. Die eerste MIng-graad is in 1983 toegeken en Jannie van Deventer het die eerste PhD in die departement in 1985 ontvang. Sedertdien het die departement wêreldwyd bekend geword vir die werk in mineraalprosessering/ekstraksiemetallurgie, biobronne-ingenieurswese, skeidingstegnologie, intelligente prosesstelsels, watertegnologie en waardetoevoeging tot afval. Drie van die vyf akademici met die hoogste Scopus h-faktore in die Fakulteit is van die Departement Prosesingenieurswese, en die Departement het ses DIng-, 101 PhD- en 393 MEng-grade toegeken."

Hy sluit af: "Die departement is goed geposisioneer en sien uit na die volgende 50 jaar om voort te gaan met die aflewering van uitstekende gegradueerdes en navorsing wat sal bydra tot 'n volhoubare en welvarende toekoms."

Kyk hier na die konferensieverrigtinge (program, hoofaanbiedings, opsommings van mondelinge en plakkaataanbiedings, en 'n lys van DIng- en PhD-ontvangers).

Foto: Van links is prof Steven Bradshaw, prof Hansie Knoetze, Marius Louw (seun van die stigter, wyle prof Nico Louw), Pia Nel (eggenoot van Carel Nel), prof Jannie van Deventer and dr Eric Horsten.

Fotokrediet: Chanté du Toit.