Skip to main content
Program wil toppresteerders aanmoedig om na uitnemendheid te streef

Program wil toppresteerders aanmoedig om na uitnemendheid te streef

Pia Nänny
16 Februarie 2016

'n Program, gemik op die ondersteuning van die holistiese ontwikkeling van top- voorgraadse akademiese presteerders in die Ekonomiese en Bestuurswetenskap Fakulteit by die Universiteit Stellenbosch (US),  is Maandag (15 Februarie) bekendgestel.

Die Optimus-program het ten doel om enersdenkende individue geleenthede te bied om hul akademiese vermoëns te ontgin, hul belange te verken, 'n goed-gebalanseerde lewe te bou, terug te gee aan hul gemeenskappe, bande te smee met leiers op hul gebied en mentors te identifiseer, het programkoördineerder dr Suzanne van Aswegen verduidelik.

'n Uitnodiging om vir die program aansoek te doen, is aan die top- akademiese presteerders in elke departement in die fakulteit gestuur – baie van hulle het meer as 80% in hul eerste studiejaar behaal. 'n Groep van ongeveer 30 studente is gekies om deel van die Optimus-program te wees.

Hulle is gevra om hulself vir twee jaar te verbind – die tweede en derde jaar van hul studie. Een van die voorvereistes is dat studente hul akademiese prestasie volhou.

Prof Ronel du Preez, Visedekaan: Onderrig, het die studente gemaan dat hulle die program uitdagend mag vind en dat daar van hulle verwag sal word om buite hul gemaksone te beweeg en grense te verskuif.

"Dit is nodig vir jou persoonlike groei. Ons wil bydrae tot jou uitnemendheid​," het sy gesê.

Prof Stan du Plessis, dekaan van die fakulteit, het aan die studente gesê die fakulteit bestee baie tyd daaraan om probleme aan die ander end van die opvoedkundige spektrum op te los.

"Dit sal egter 'n fout aan ons kant wees as ons nie besin oor wat ons vir ons toppresteerders kan doen nie."

Hy het gesê baie toppresteerders word die slagoffers van hul eie sukses.

"Jy kan dalk oorweldig voel deur al die geleenthede tot jou beskikking en uiteindelik nie een van hulle benut nie omdat jy bang is jy kies die verkeerde een. Toe jy US toe gekom het, het jy vir 'n akademiese program ingeskryf, maar dit is nie die enigste ding wat jy hier kan doen nie. Jy kan baie ander geleenthede ontsluit, en die Optimus-program sal jou help om die keuses te maak wat vir jou sal werk."

Van Aswegen het verduidelik dat Optimus se fokus op kapasiteitbou is.

Die program sal op die volgende vyf elemente konsentreer: akademiese verryking; selfontwikkeling en leierskap; professionele en loopbaanoriëntering; sosiale impak; en globale ingesteldheid en innovering.

"Hierdie holistiese benadering tot akademiese voortreflikheid beoog om US-studente te help om nuwe vlakke van leierskap en intellektuele ontwikkeling te bereik en hulle sodoende 'n voorsprong op die pad na briljante loopbane in hul veld gee. Die idee is daarom dat hierdie presteerders gelei sal word om hul volle potensiaal te bereik, bemagtig sal word om vir prestige nagraadse beurse aansoek te doen, aangemoedig sal word om positiewe rolmodelle vir ander te word en verder die intellektuele reputasie van US, gedurende en ná hul studies, uit te bou," het Van Aswegen gesê.

Lyle Ressouw, 'n tweedejaarstudent in aktuariële wetenskap, sien uit daarna om hierdie geleentheid aan te gryp om persoonlik te groei en te ontwikkel.

"Ek sien dit as 'n platform vir groot dinge," het hy bygevoeg.

Danielle Lambrechts (rekeningkunde), Tonia Schoeman (aktuariële wetenskap) en Janine Stols (aktuariële wetenskap) is dit eens dat die program baie geleenthede sal ontsluit en is opgewonde oor die vaardighede wat hulle sal aanleer – vaardighede wat nie in 'n klaskamer geleer word nie.

Evan Abrahams, 'n rekeningkunde-student, is opgewonde oor hierdie geleentheid om na uitmuntendheid te streef.

"Ek dink ons gaan baie leer," was sy mening.