
Prof Sophie von der Heyden help bewaar SA se mariene ekostelsels
Prof Sophie von der Heyden van die Departement Plant- en Dierkunde in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) het haar intreerede op 8 Augustus 2023 gelewer. Die titel van haar lesing was “ʼn Kort reis deur die evolusie van mariene molekulêre ekologie in Suider-Afrika: 15 jaar se perspektiewe".
Von der Heyden, wat ook die leier van die Mariene Genomika- en Bewaringsgroep en ʼn medewerker by die Skool vir Klimaatstudie by die US is, het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar navorsing help om Suid-Afrika se beskermde mariene gebiede en hulpbronne te bestuur en te bewaar.
Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.
Ek het in Berlyn en Londen grootgeword, so my loopbaan is nie dadelik deur die see geïnspireer nie. Maar ek was lief vir natuurhistoriese museums (en is nog steeds) en het dikwels saam met my ouer broer gaan visvang en visse, paddavissies, en so meer, in flesse huis toe gebring. Later het ek ʼn wye verskeidenheid van visse by die huis aangehou en my gunsteling was die “vieroogvis" (Anableps). Uiteindelik het ek ʼn graad in akwatiese biologie verwerf.
ʼn PhD in evolusionêre biologie het gevolg (ek het die vreugde van genetika in my eerste jaar ontdek) en toe was ek gelukkig genoeg om my loopbaan in Suid-Afrika te begin. Hier kon ek molekulêre ontleding en my belangstelling in mariene ekologie en evolusie gesamentlik gebruik om ondersoek te begin instel na hoe die omgewing, beide in die verlede en nou, mariene bevolkings vorm en wat dit vir hul bewaring en bestuur beteken.
Hoe help jou navorsing om Suid-Afrika se mariene bewaringsgebiede en hulpbronne te bestuur en bewaar?
Die mees onmiddellike impak is deur ons langtermynverhouding met navorsers en bestuurders in die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en die demersale en pelagiese visvangnywerhede (onderskeidelik visse wat op die seebodem en dié wat nader aan die oppervlak voorkom) in Suid-Afrika en Namibië, asook ander kollegas en belanghebbendes. Ons beoordeling van die genetiese struktuur van stokvis- en koningklipbevolkings het gelei tot veranderinge in hoe hierdie voorraad bestuur word en het die belangrikheid van die bestuur van gedeelde visseryhulpbronne beklemtoon, selfs oor geopolitieke grense heen.
My werk was baie uiteenlopend en het met verloop van tyd “geëvolueer" en baie verskillende spesies betrek. Ek bestuur nou Suid-Afrika se grootste navorsingsprogram oor seegrasekologie, -bewaring en -herstel en ontwikkel ook nuwe genomiese instrumente vir die monitering van biodiversiteit in mariene en varswateromgewings. Dit sal kernbeoordelings van die ongelooflike natuurlike diversiteit van die streek verskaf. Ek was baie gelukkig om by verskeie wêreldwye inisiatiewe betrokke te wees wat ten doel het om beide menslike en tegnologiese kapasiteit regoor Afrika uit te brei.
Gegrond op jou uitgebreide navorsing, waarom is dit so belangrik dat ons ons mariene ekostelsels bewaar?
Die mensdom was nie goed vir die planeet nie. Ons het grootskaalse veranderinge aangebring, soveel so dat sommige mense die era waarin ons leef die “Antroposeen" noem (menslike aktiwiteite wat die planeet se klimaat en ekosisteme aansienlik beïnvloed). Daar is min ongerepte plekke oor en wêreldwye verandering is ʼn realiteit wat biodiversiteit en die mensdom raak. Dit maak dus sin dat ons pogings om die mariene ekosisteme te bewaar ook ʼn positiewe uitwerking sal hê op hoe mense in staat is om te leef.
Deur ons oseane te beskerm trek ons nie net voordeel uit meer visse en ander spesies wat mense vang nie, maar die oseane help ook om die klimaat te reguleer en genereer baie van die suurstof wat mense vir hul oorlewing nodig het. Dit is die groter prentjie. Maar die oseane huisves ook die ongelooflikste diversiteit van spesies, wat almal ingewikkeld by hul omgewing aangepas is en almal op hul eie manier belangrik is. Sonder hulle sou die wêreld ʼn baie armer plek gewees het!
Jy is reeds jare lank by die uitdagende hoëronderwysomgewing betrokke. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Wel, my gesin hou my voete op die grond, maar dinge raak vir seker moeilik. Ons is deur studentegelde-protesaksies, afnemende befondsingsgeleenthede, droogtes en die elektrisiteitskrisis, terwyl ons terselfdertyd groter professionele ladings moes hanteer. My motivering spruit uit realisme en dankbaarheid dat ons steeds ʼn ongelooflike werkplek het waar ons intellektuele vryheid het, asook geleenthede om te reis en om idees en kennis uit te ruil, waar ons sterk en blywende verhoudings en vriendskappe kan smee, asook help om kapasiteit uit te brei en wetenskap te vorm.
My studente was nog altyd ʼn inspirasie, al weet hulle dit dalk nie. Ek bewonder hoe hulle met hul MSc's en PhD's worstel en alles werk uit – die opleiding van die volgende generasie opkomende navorsers is ʼn groot vreugde. Ten slotte is perspektief belangrik. As akademici het ons unieke werkplekke en geleenthede wat verder strek as dié van baie ander mense en dit is iets waarvoor ek nog altyd dankbaar was.
Wat sou jou boodskap aan jong meisies wees wat ʼn loopbaan in wetenskap oorweeg?
Daar is niks wat jy nie kan doen nie. Om ʼn wetenskaplike te wees is regtig opwindend, so of jy nou ʼn mariene bioloog of ʼn chemikus wil wees of wiskunde wil studeer, doen dit net. Daar is geen “meisie"- en “seun"-vakke nie. Die wêreld het sterk vroue as wetenskaplikes, navorsers en leiers nodig, so gaan daarvoor!
Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.
As tiener het ek vir ʼn paar jaar ʼn klein musiektydskrif bestuur en selfs met die idee gespeel om ʼn musiekjoernalis te word. Ek het BAIE van my tyd in Londen daaraan bestee om na bands te gaan luister en na musiekfeeste te gaan. Ek was nooit ʼn uitblinker op skool nie en my huiswerk was nooit betyds nie, meestal omdat ek baie na musiek geluister en (onsuksesvol) probeer het om musiek te maak. Dus het ek die meeste naweke weg van my lessenaar deurgebring. Ek het wel die wonderlikste bands en mense gesien en ontmoet, soos Oasis en FatBoy Slim!
Wat doen jy in jou vrye tyd?
My gesin is nooit ver nie. Hulle is die belangrikste deel van my “vrye tyd". Jy sal ons op ʼn berg, langs ʼn sportveld of in die see aantref en ons sal meestal besig wees om nuwe avonture te beplan en soveel te reis as wat ons kan. ʼn Tipiese dag behels om met ons mal hond te speel, tyd saam met vriende deur te bring, te bak, te lees en (pogings tot) klavierspeel. Ek sal graag meer tyd wil hê om vrywilligerswerk te doen by plekke soos die Dierebeskermingsvereniging, wie se saak my na aan die hart lê.