Skip to main content
Prof Arnold Schoonwinkel groet US na amper 4 dekades van sukses

Prof Arnold Schoonwinkel groet US na amper 4 dekades van sukses

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
11 Desember 2020

“Ek het my kolfbeurt gehad, ek het my lopies geslaan wat ek kon slaan. Dis nou tyd om die kolf weg te pak."

Só sê die uittredende Viserektor vir Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US), prof Arnold Schoonwinkel, wat aan die einde van 2020 na dekades in diens van die US halt roep. Die Universiteit het Donderdag (10 Desember) ʼn afskeidsfunksie vir hom gehou.

Schoonwinkel se verbintenis met die US gaan sover terug as 1974 toe hy sy intrek as eerstejaar- ingenieurstudent op Stellenbosch geneem het. In 'n sekere sin word die sirkel nou met sy aftrede voltooi.

Schoonwinkel spog met 'n lang en suksesvolle loopbaan waartydens hy die US met onderskeiding as dosent, navorser, navorsingsbestuurder, departementshoof, dekaan (tien jaar) en viserektor (twee termyne) gedien het. Hieroor sê hy: “Ek is baie bly en dankbaar om so lank by een instelling te kon werk. Ek het myself altyd hier welkom gevoel." Hy was reeds in 1982 vir 'n kort tydjie 'n senior lektor in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en is in 1993 as medeprofessor aangestel nadat hy 'n draai in Israel gemaak het.

Voordat Schoonwinkel by die US aangesluit het, het hy eers sy vaardighede by onder meer SASOL en Marconi SA geslyp. Hierdie ervaring het hom goed te pas gekom toe hy die akademie betree het, sê hy. “Die praktykervaring het my gehelp om beter klas te gee. As jy in die praktyk begin en dan klasgee, help dit jou baie en die studente vind dit ook baie interessant."

Schoonwinkel kyk met nostalgie terug op sy tyd saam met studente. “Die studente was aangenaam. Ons het baie dinge saam met hulle gedoen behalwe om te werk in die laboratorium. Ons het gereeld in die veld gaan stap of gaan kamp om hulle te leer ken. Ek het 'n goeie verhouding met studente gehad."

Een van die herinneringe wat vir hom uitstaan, is toe hy saam met sy studente en kollegas die mikrosatelliet SUNSAT gebou het.

“Om die waardheid te sê, oor die sewe jaar wat ons aan die satelliet gebou het, het ons omtrent 150 M- en D-grade afgelewer waarvan die skripsies direk oor die satellietprojek was."  

Oor sy tyd as dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese sê Schoonwinkel dit was lekker om mense uit ander vakgebiede en ander kollegas te leer ken. Op die vraag oor watter hoogtepunte vir hom uitstaan, noem hy die drastiese toename in die getal ingenieurstudente, die verbetering van infrastruktuur, die opknapping van laboratoria, en die ontwikkeling van 'n nuwe bemarkingstrategie vir die Fakulteit. Om dit alles te vermag, het Schoonwinkel ook gewoeker met fondswerwing. Hy sê grappenderwys dat hy 'n “professionele bedelaar" was.

Toe die pos van viserektor vir Leer en Onderrig beskikbaar word, het Schoonwinkel besluit om sy naam in die hoed te gooi.

“Ek was nog altyd baie lief vir leer en onderrig, want dit was vir my lekker om saam met die studente te werk. Leer en onderrig het so baie dimensies – jy werk met die nuwelingstudente, die nagraadse student, die gehalte van jou programme, jy werk met die bedryf om seker te maak dat dít wat jy aanbied en die studente wat jy lewer, inderdaad is wat die bedryf wil hê."

Reeds in sy eerste termyn het Schoonwinkel gewys hy's 'n persoon met visie, iemand wat vooruit dink. “Vroeg in my termyn het ek besef dat tegnologie hoër onderwys drasties gaan verander. Ek het toe 'n voorstel aan die Raad gemaak dat ons 'n investering in Inligting- en Kommunikasietegnologie vir Leer en Onderrig moet maak.  

Dit het daartoe gelei dat die kampusnetwerkstrukture opgeknap is en dosente en studente opgelei is om tegnologie deel van leer en onderrig te maak."

Schoonwinkel is veral trots daarop dat die Jan Mouton Leer-sentrum gedurende sy tyd as viserektor gekonseptualiseer is en dat die US nou 'n Hibriede Leer-sakeplan het wat op werk-en-leer-studente gemik is. Hy sê laasgenoemde “gaan Stellenbosch vorentoe heeltemal verander. Ons gaan weer studentegroei kry, maar ons gaan dit kry in die volwasse student, nie net in die jong, eerstegraad-student nie. Dis waar ons nuwe groeigeleenthede lê."

Soos baie ander senior bestuurders, moes Schoonwinkel ook uitdagings in die gesig gestaar. Hy noem veral die Taaldebat en die FeesMustFall-proteste en sê hy's bly die US kon hierdie storms deurstaan.

Schoonwinkel sê hy is dankbaar is vir die lesse wat hy geleer het.

“Ek het geleer dat bestuur'n balans is tussen wat jy as instelling wil doen en die vryheid vir individue om hulle ding te doen. Jy moet rigting gee, maar ook rigting kry oor wat om jou gebeur."

Met 'n nuwe lewensfase wat eersdaags inskop, sê Schoonwinkel hy beplan nie om stil te sit nie. “Ek wil graag meer reis, wyer lees, my fotografievaardighede opskerp, weer begin klavier speel en op ander plekke as net Stellenbosch gaan bergfiets ry. Ek sal ook graag, waar moontlik, op 'n kleiner skaal betrokke wil raak by projekte by universiteite."

En wat is sy afskeidsboodskap aan die US? “Stellenbosch is 'n besondere universiteitsgemeenskap. Ek is baie in my skik met hoe Stellenbosch die model word van hoe Suid-Afrikaners met mekaar kan saamleef. En ek kan net sê: gaan so voort."

  • Klik hier vir ʼn podsending met Prof Arnold Schoonwinkel.