
PhD-studie kan help om plastiek-voetspoor, vermorsing van granaatbedryf te te verminder
'n Idee wat kan help om die granaat-bedryf se plastiek-voetspoor te verklein en voedsel-verlies in sy waardeketting te verminder: dit is wat 'n nuut-gegradueerde PhD-student in Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr. Tatenda Kawhena, mee vorendag gekom het toe hy 'n beskermende eetbare lagie ontwikkel het wat die stoor- en raklewe van hierdie Mediterreense vrug verleng.
Dit sluit Arabiese gom en mieliestysel gekombineer met bestanddele soos sitroengras essensiële olie en gliserol. Arabiese gom is 'n natuurlike gom wat vervaardig word uit die verharde sap van twee spesies Akasia-bome, Senegalia senegal en Vachellia seyal. Beide is nie inheems tot Suid-Afrika nie.
Deur laboratorium-gebaseerde studies het dr. Kawhena bewys dat die konsep om 'Wonderful' granate in die oplossing wat hy ontwikkel het te doop goed werk om die stoor- en raklewe van die vrug te verleng. Boonop hou die vrugte selfs langer wanneer hulle eers in die deklaag-oplossing gedoop word en dan saam verpak word in sogenaamde “polyliner" verpakking en standaard oop kartonne.
'n Volgende stap sal wees om sy konsep binne die konteks van 'n pakstoor te toets.
Dr. Kawhena het sy PhD-studie begin met die idee om moontlike vermorsing en voedselverlies in die granaatbedryf te help verminder.
Daar was oor die afgelope jare 'n stewige toename in granaatproduksie in Suid-Afrika weens groeiende wêreldwye aanvraag. Granate beskadig egter maklik nadat hulle geoes is, en word in die proses vermors. Sodoende word groei in die plaaslike bedryf beperk.
“Groot sorg moet aan die dag gelê word om te verseker dat granate so lank as moontlik hou, en nie vermors word wanneer hulle gepluk word nie. Hulle word maklik beskadig met verloop van die na-oes logistieke ketting," verduidelik dr. Kawhena. “Daarom is die ontwikkeling en toepassing van nuwe wetenskaplike tegnologieë om na-oes verliese in die granaatbedryf te verminder, 'n prioriteit.
“Tans, as deel van pogings om granate van uitvoergehalte langer te laat hou, word omtrent tien vrugte saam verpak in 'n plastieksak en daarna in kartonne. Binne een seisoen lei dit tot die verbruik van baie plastiek wat dikwels net een maal gebruik word."
Sy PhD-studie is befonds deur die Granaatprodusente Vereniging van Suid-Afrika (POMESA) en die DWI-NNS Suid-Afrikaanse Navorsingleerstoel-inisiatief (SARChI) in Na-oes Tegnologie aan die US.
Sommige van sy bevindings is reeds gepubliseer in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte.
Die pad na 'n PhD
“Met 'n PhD begin jy in die wildernis en probeer dan jou pad daardeur vind," som dr. Kawhena die vele maande van eksperimentering op wat nodig was om die regte kombinasie van bestanddele te vind vir sy eetbare granaat-beskermingslaag.
Hy het van uithou en aanhou geleer in hierdie fase van sy navorsing, aangesien dit saamgeval het met die COVID-19 grendeltyd in Suid-Afrika in 2020 en 2021. Die US-kampus was verlate omdat slegs 'n paar studente toegelaat is om hul laboratorium-gebaseerde studies voort te sit.
“En ek moes met 'n masker werk, iets waaraan landbounavorsers nie sommer gewoond is nie," onthou hy.
Sy studie is gedoen onder die toesig van landbou-ingenieur prof. Umezuruike Linus Opara van die US en prof. Olaniyi Fawole van die Universiteit van Johannesburg. Prof. Opara beklee die Suid-Afrikaanse Navorsing-leerstoel (SARChI) in Na-oes Tegnologie, is 'n uitgelese professor in US se Departement Hortologie, en 'n wêreldleier in die na-oes versorging van granate.
Dr. Kawhena kom van Marondera in Zimbabwe, en het in 2009 gematrikuleer. Hy het sy loopbaan in die landbousektor begin deur voorgraads gewas- en grondkunde te studeer aan die Universiteit van Fort Hare in Suid-Afrika. In 2018 het hy 'n MSc in Hortologie behaal aan die Universiteit Stellenbosch, onder die leiding van sy mentor, prof. Opara. Hy het gekyk hoe om oppervlakkige skade op die skille van 'Granny Smith' appels en 'Packham's Triumph' pere te beheer met die gebruik van die nie-chemiese dinamiese beheerde atmosfeer (“Dynamic Controlled Atmosphere", of DCA) koelberging-tegniek.
Hy sit nou sy loopbaan voort in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf as 'n projekbestuurder vir Provar, 'n maatskappy in die Paarl wat fokus op die onafhanklike evaluering van nuwe vrugtekultivars en onderstokke. Dis ook 'n datasentrum vir die insameling van die kennis rondom die jongste produkontwikkelings.
Fotokrediet: Stefan Els