Skip to main content
PhD-kandidate leer suksesgeheime by netwerkgeleentheid van ADA-winterskool

PhD-kandidate leer suksesgeheime by netwerkgeleentheid van ADA-winterskool

Daniel Bugan
17 Julie 2023

​As deel van sy winterskool vir 2023, het die Afrika Doktorale Akademie (ADA) in Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal op 11 Julie 'n netwerkgeleentheid aangebied. Onder die gaste was die doktorale kandidate, promotors en navorsers wat deelneem aan die winterskool van 3 tot 21 Julie by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS).

Die gasspreker, prof Sebastian Kernbach van die Universiteit van St Gallen, Switserland, het vir sy boeiende praatjie uit sy ervaring as besoekende professor aan die Universiteit van Stanford én sy betrokkenheid by die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (NASA) geput. Die aanbieding, “Ontwerp jou toekoms: Oorleef, bemeester en floreer op die PhD-reis – lesse van die ADA, Stanford en NASA", het persoonlike bydraes, kreatiwiteit en holistiese intelligensie as die drie sleutels tot suksesvolle doktorale studie beklemtoon.

“Hoe wil jy met jou PhD persoonlik tot jou familie, gemeenskap en land bydra?" het hy gevra. “Herinner jouself voortdurend waarom jy doen wat jy doen, want dít sal jou aan die gang hou wanneer dinge moeilik raak. Tweedens is navorsing 'n proses van onsekerheid, en daarom moet ons kreatief te werk gaan deur nuwe idees te skep en bestaande idees en menings bymekaar te voeg. Hou laastens die IK-navorser Robert Sternberg se model van suksesvolle menslike intelligensie in gedagte, en gebruik die pilare van analitiese, kreatiewe en praktiese intelligensie vir julle PhD's, maar ook vir julle rol as mense op hierdie planeet."

Die ADA se jaarlikse winter- en somerskole by die US bied impakryke opleiding in navorsingsontwerp en -metodologie, akademiese gereedheid en loopbaanontwikkeling vir PhD-kandidate en hulle promotors. “Ondersteuning vir PhD-kandidate in Afrika is noodsaaklik, want ons lewer nie soveel doktorate op as wat ons graag wil nie," sê dr Mmampho Gogela-Smith, senior programbestuurder in US Internasionaal se Afrikasentrum vir Akademieskap. “En dít is juis wat ons met die ADA-winterskoolprogram probeer doen. Ons hoop deelnemers benut ook sommer die geleentheid om bande te bou en vennootskappe te vorm."

Vanjaar se aflewering van die ADA-winterskool is die eerste ten volle hibridiese weergawe en word 50% aanlyn en 50% in kontakvorm aangebied. “Die hibridiese aanbiedingsmetode bied 'n gerieflike opsie vir diegene wat dalk finansieel sukkel of werkverpligtinge het en nie Stellenbosch toe kan kom nie," verduidelik dr Natalie Kowalik, ADA-programbestuurder by US Internasionaal. Belangstelling in die winterskool was oorweldigend en meer as 350 voornemende deelnemers van Suid-Afrika, die res van Afrika en elders het aansoek gedoen. “Oor die 200 deelnemers woon die aanlyn en kontakkursusse by, party met beursbystand. Hulle kom onder meer van Nigerië, Suid-Afrika, Kenia, Uganda, Namibië, Tanzanië en Zimbabwe," voeg Natalie by.

Deelnemer Lawson Naidoo, 'n dosent en doktorale promotor aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, sê sy universiteit het hom vir die ADA-winterskool ingeskryf om sy vermoë en vaardighede as studieleier te bou. Hy sien veral uit na die nuwe insigte en goeie praktyke wat hy in die werksessie “Goeie praktyk in nagraadse navorsingstudieleiding" sal leer.

Mededeelnemer Siyabonga Rayise, 'n PhD-student van die Vaal Universiteit vir Tegnologie, wou weer graag aan die program deelneem omdat die inhoud beloof om hom heelwat in sy studie te help. Hy stel veral belang in die kursus “Skryf 'n doeltreffende literatuuroorsig vir jou doktoraat". “Ek hoop dit sal my met bykomende vaardighede en gereedskap toerus om my literatuuroorsig te skryf," sê hy.

Die ADA-skole het sedert aanvang in 2009 al meer as 5 500 voornemende en huidige doktorale kandidate en hulle promotors van 53 lande in Afrika en elders, waaronder Europa, Asië en Amerika, opgelei.