
Personeelmobiliteit te midde van die “nuwe normaal”
Nie 'n enkele faset van die hoër onderwys het die impak van die wêreldwye COVID-19-pandemie en die gevolglike landwye inperking en internasionale reisverbod vrygespring nie. Soos die meeste ander instellings ter wêreld, het die Universiteit Stellenbosch ook die meeste van sy bedrywighede na die kuberruim verskuif ter wille van bedryfsvoortsetting en die voltooiing van die akademiese jaar. Akademiese en professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel moes boonop die afgelope paar maande nuut dink oor samewerking met kollegas in die buiteland.
Kort voor die inperking het die eerste versoek vir personeelmobiliteitsaansoeke vir 2020 gesluit, en sou die beoordeling van die aansoeke net begin. Die oplegging van die landwye inperking het dié proses tot 'n skielike stilstand gedwing. Toe die implikasies van ons nuwe realiteit eers tot ons deurgedring het, het US Internasionaal ywerig begin herontwerp aan die tradisionele mobiliteitsopsies sodat samewerking ondanks die reisverbod kon voortduur.
Met aansoeke in, en vennote steeds gretig om saam te werk, was die eerste stap om kontak te behou. Daar is besluit om 'n paar aanlyn ontmoetings met vennote en medewerkers te hê om gesprek oor moontlike nuwe samewerkingsprojekte aan te moedig. Dít is stelselmatig en strategies gedoen, met die verstandhouding dat datums later bevestig sou word sodra meer duidelikheid oor mobiliteit in die tweede semester verkry is.
Akademici wat reeds goedkeuring ontvang het om te reis, is in kennis gestel dat hulle nog tot in Junie 2021 hulle mobiliteitstoelaes kan benut om hulle verpligtinge na te kom. Hierdie aankondiging is wyd verwelkom en oorsese medewerkers het fluks begin om navorsingsbesoekdatums tot in 2021 uit te stel.
Wat reis op die vasteland betref, het US Internasionaal se Centre for Collaboration in Africa twee versoeke vir aansoeke om die Afrikasamewerkingstoelaag vir 2020 uitgereik. Altesaam 79 aansoeke is ontvang en 68 toelaes ter waarde van R2 225 200 is uiteindelik toegeken. Weens die onsekerhede oor die pandemie en die implikasies vir internasionale reis het ook hiérdie tweedesemestertoekennings gepaardgegaan met die ekstra vergunning dat mobiliteitsaktiwiteite in Afrika nog tot in die eerste semester van 2021 kan plaasvind.
Om voortdurende PASD-personeelontwikkeling en -samewerking te ondersteun, “het die idee ontstaan om 'n drie dae lange, werksessietipe aanlyn program aan te bied en PASD-personeel van sowel die US as internasionale vennootuniversiteite te nooi om aan te sluit," verduidelik me Lidia du Plessis, US Internasionaal se koördineerder van besoekende akademici, nadoktorale genote en internasionale projekte. “Dit was belangrik om die momentum van die PASD-mobiliteitsprogram te behou, veral ná die suksesvolle eerste besoek aan die Universiteit van Lund in Swede in Oktober 2019."
Afgevaardigdes wat by die program sal inskakel, sal aan verskeie onderwerpe in verband met administrasie en internasionalisering blootgestel word. “Deelnemers sal dan ook 'n geleentheid ontvang om aanlyn ontmoetings met hulle eweknieë wêreldwyd te hê om uitdagings te bespreek en beste praktyk uit te ruil," sê Lidia. Die aanlyn formaat sal boonop méér PASD-personeellede in staat stel om deel te neem, wat 'n onvoorsiene byvoordeel is. Beplanning vir die geleentheid het reeds begin.
Namate US Internasionaal sy weg deur die landskap van personeelmobiliteit gedurende en ná COVID-19 vind, sal die afdeling voortgaan om sy eie tradisionele denke oor mobiliteit te bevraagteken om meer hibridiese en aanlyn aanbiedinge in te sluit.