Skip to main content
Personeel vereer vir hul bydrae tot 60 jaar se sukses

Personeel vereer vir hul bydrae tot 60 jaar se sukses

FMHS Marketing & Communications
11 Julie 2016

In die gees van "Gee is omgee" het personeel van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) onlangs by die jaarlikse personeelfunksie ruimhartig nie-bederfbare kositems en toiletware aan behoeftige studente geskenk.

Ongeveer 450 personeellede het die fakulteit se 60ste herdenking gevier met 'n feestelike middagete wat deur die FGGW se dekaan, prof Jimmy Volmink, aangebied is. Volmink het die personeel bedank vir hulle bydrae tot 60 jaar se sukses. Die gaste is vermaak deur die beroemde Gugulethu-tenore, en hulle weergawes van Suid-Afrikaanse gunstelinge, soos Liefling en Meadowlands, het lede van die gehoor op hul voete gehad.

"Terwyl ons vanjaar ons fakulteit se 60ste herdenking vier, kyk ons met trots terug na die vele prestasies wat ons oor die jare bereik het. Ons vier die uitmuntendheid waarvoor ons fakulteit bekend is, en ons kyk vorentoe na ons gedeelde toekoms," het Volmink gesê.

Volmink het gesê dat die FGGW baie prestasies behaal het om op trots te wees, maar niks daarvan sou moontlik gewees het sonder die toewyding van personeellede nie. "Dankie vir elkeen se individuele aandeel, maak ook vir jou bydrae as deel van 'n span. Julle is almal kollegas waarop ander kan staatmaak," het hy gesê.

Volgens die dekaan sal die fakulteit tydens die jaar van sy 60ste herdenking voortdurend die kultuur van omgee, gee en deel vier waarvoor Tygerberg bekend is.

Een van die projekte wat beklemtoon word is die Spens-projek, wat deur FGGW-studente en die Tygerberg Studenteraad-kantoor begin is. Studente gee bydraes van nie-bederfbare kositems en toiletware aan gemeenskaplike spense in koshuise, sodat behoeftige studente toegang het tot die basiese benodighede. Daar is ook houers op kampus waar personeel en studente items kan plaas om aan die projek te skenk.

By die middagete het personeellede in totaal 345 kos items en toiletware aan die Spens-projek geskenk.