
Pasop vir versteekte sout in kos
Wêreld-soutbewusmakingsweek is van 16 tot 22 Maart 2016.
Die tema vir Wêreld-soutbewusmakingsweek 2016 is 'Pasop vir Versteekte Sout'. "Die voedsel wat ons koop bevat 75% van die hoeveelheid sout wat ons eet," waarsku mev Irene Labuschagne, ʼn dieetkundige aan die Voedingsinligtingsentrum (Nicus) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch. "Dit is belangrik om minder verwerkte en voorafbereide kos te eet indien jy jou soutinname wil verminder."
Daar is bewys dat mense wat gereeld te veel sout eet, ʼn hoër risiko het om hoë bloeddruk te ontwikkel, wat die hoofoorsaak van beroerte is en ʼn groot oorsaak van hartaanvalle en hartversaking is. Hierdie is die algemeenste oorsake van sterftes en siektes in die wêreld.
Volgens Labuschagne ly drie uit elke tien Suid-Afrikaners aan hoë bloeddruk. "Voedselregulasies is nie genoeg om Suid-Afrikaners se soutinname te verlaag nie. Dit is belangrik dat die publiek opgevoed word oor hoe om soutinname suksesvol te verminder," sê sy.
Baie mense besef nie dat hulle te veel sout eet nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat volwassenes minder as 5 gram sout (een teelepel) per dag inneem. ʼn Afname in soutinname van slegs twee gram per dag sal jou risiko vir kardiovaskulêre probleme egter met 20% verlaag.
Die hoofbron van natrium is tafelsout, of natriumchloried (NaCl). "Sout help om die liggaam se vloeistofbalans te reguleer, maar die hoeveelheid wat ons eet is baie meer as wat ons nodig het," sê sy. Een teelepel (5 gram) sout bevat ongeveer 2 000 mg natrium.
"Mense kan een belangrike verandering aan hulle diëte aanbring om hul risiko te verlaag," sê Labuschagne. "Eet meer vars groente en vrugte, wat van nature ryk aan kalium is en minder natrium bevat. Die inname van brood, kaas en verwerkte vleis moet beperk word, omdat hierdie en ander verwerkte kosse groot hoeveelhede natrium bevat en nie genoeg kalium nie."
Te danke aan aksies deur die voedselbedryf, regerings en gesondheidsorganisasies soos die groep World Action on Salt and Health (WASH), is daar wêreldwyd deeglike bewustheid oor die nadelige gevolge van sout," sê Labuschagne.
Kliek hier vir ʼn inligtingsblad met meer inligting oor ʼn dieet met ʼn lae soutinname, insluitend riglyne en praktiese wenke hoe om jou soutinname te verlaag.
Medianavrae:
Mandi BarnardBemarkingskoördineerder+27 (0)21 938 9505[email protected]Afdeling Bemarking en KommunikasieFakulteit Geneeskunde en GesondheidswetenskappeUniversiteit Stellenbosch