Skip to main content
Opdatering: Gesprekke met studente

Opdatering: Gesprekke met studente

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
23 September 2016

Opdatering: 21 September

Daar was verwikkelings sedert die oorspronklike artikel hieronder geplaas is. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en me Tonia Overmeyer, Studentedekaan, het Saterdagoggend (17 September 2016) met die groep vergader en ʼn onderneming is gegee om teen Vrydag, 23 September terugvoer te gee oor die kwessies wat deur die groep geopper is.

Die groep het gevolglik onderneem om nie vandeesweek enige akademiese aktiwiteite te ontwrig nie. Die situasie het Maandag (19 September) verander en het op Dinsdag (20 September) versleg. As gevolg van die huidige situasie op die kampus, is die beloofde terugvoer (skakel) Dinsdag per e-pos aan die studente gestuur.

Die Universiteit bly verbind daartoe om met studente in gesprek te tree oor studentegelde en ander kwessies. Die proses word gedryf deur ons Afdeling Studentesake, insluitend die Studentedekaan. Die Rektor voorsien nie om hierdie kwessie aan te spreek by 'n massavergadering of ʼn verdere vergadering met die groep nie.

Vorige artikel

Saterdag 17 September:

Nog ‘n gespreksessie oor studentegelde en ander sake is vir Vrydag 23 September 2016 geskeduleer tydens ‘n vergadering tussen ‘n groep studente en prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, wat vanoggend (Saterdag 17 September 2016) op die kampus plaasgevind het. Prof De Villiers het met studente in gesprek getree na sy terugkeer van ‘n besoek aan ander provinsies waar hy alumni-geleenthede bygewoon het.

Prof De Villiers, me Tonia Overmeyer, Studentedekaan, en ander universiteitspersoneel het van ongeveer 09:00 tot na 14:00 by studente in die Wilcocks-gebou aangesluit om na hulle griewe te luister. Oop en eerlike gesprekke het gevolg en daar is ooreengekom dat prof De Villiers en me Overmeyer by die volgende gesprek oor verskeie sake terugvoer sal gee, onder meer studentegelde, die finansiële situasie van sommige uitgekontrakteerde werkers en die US se rol in Suidelike Afrika.

Die US se biblioteek op die sentrale kampus is Vrydagmiddag vir die naweek gesluit nadat ‘n skermutseling ontstaan het toe sekuriteitspersoneel die roldeur wou toemaak om die gebou te beveilig, en sommige studente hul teëgesit het. Enkele beserings is gerapporteer en ‘n paar studente is by die Kampusgesondheidsdiens vir die inaseming van pepersproei behandel. Die Kampusgesondheids- en krisisdiens het ook studente bygestaan. Die US-ambulans en ‘n verpleegsuster was buite die gebou om hulp te verleen en hulle is versoek om ‘n student by te staan wat in die biblioteek siek geword het. Sy is per ambulans hospitaal toe geneem vir verdere behandeling. Sy is vanoggend ontslaan en reeds terug in haar koshuis.

In reaksie op die voorval het prof De Villiers Vrydag gesê: ”Geen Visekanselier wil konflik op sy of haar kampus hê nie, en dit is jammer dat daar vandag wrywing was. Ons doen egter ons bes om die situasie op te los. Ons ondersteun gratis hoër onderwys vir finansieel behoeftige, akademies verdienstelike studente. Ons doen dit deur gedifferensieerde finansiële ondersteuning, byvoorbeeld beurse op ‘n glyskaal volgens jaarlikse huishoudelike inkomste. Ons is absoluut verbind tot die verbreding van toegang tot die Universiteit, en terselfdertyd tot studentesukses.”

‘n Gesprek tussen ‘n klein groepie studente en me Overmeyer om huidige gebeure en stand van sake te bespreek, en verskillende perspektiewe en bekommernisse aan te hoor het Vrydagmiddag na die sluiting van die biblioteek plaasgevind.  ‘n Ruimte vir interaksie met die Studentedekaan is in Huis Russel Botman House geskep.

‘n Groep studente het Donderdagaand in die biblioteek oornag en Vrydagoggend besluit om die ingang na die gebou te versper om ander studente uit te hou. Aangesien hierdie aksies inbreuk maak op die regte van studente wat die biblioteek wou gebruik, kon die Universiteit nie toelaat dat die situasie onbepaald  voortgaan nie. Daarom het die protesgroep geskrewe kennisgewings ontvang om die gebou te verlaat en daar is vir hulle tyd gegee om dit te doen. Studente kon op enige tydstip gedurende die besettingstydperk versoek om uit die gebou vergesel te word.

Vrydagmiddag en Saterdagoggend het studente sommige toetse ontwrig. Toegang is verkry deur te maak asof hulle veronderstel was om in die spesifieke lokaal toets te skryf. In die meeste gevalle was die ontwrigting van korte duur en kon die toetse afgehandel word. Enkele toetse sal geherskuduleer word. Studente word versoek om by hul onderskeie departemente navraag te doen. Studente wat berading nodig het na gebeure van die afgelope week kan die 24-uur krisisdiens skakel by 0825570880 of 021 808-4994 gedurende kantoorure.