
Ontmoet Sofia Moutzouris: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Sofia Moutzouris.
Sofia Moutzouris het Griekse bloed in haar are. "My grootouers het Suid-Afrika toe getrek en van onder af begin om te verseker dat my familie tersiêre universteitsopleiding kan geniet," verduidelik sy. Sy pluk self ook nou die vrugte van hul harde werk as ’n derde-generasie Suid-Afrikaner in hul bloedlyn.
Moutzouris, ’n Durbaniet, is tans ’n eerstejaarstudent in B in Spraak-Taal en Gehoorterapie by die Universiteit Stellenbosch. "Ek wil mense graag help om een van die mees basiese vorms van menslike interaksie te bemeester: kommunikasie."
Sy sê sy het haar eerstejaar sover terdeë geniet, maar erken dat sy aanvanklik baie anders as die res van haar koshuis en haar mede-studente op die Stellensbosch-kampus gevoel het as gevolg van haar kulturele agtergrond en voorkoms.
Sy was verbaas oor hoe vinnig sy aanvaar is. "Ek het glad nie verwag om so gou vriende te maak en so welkom te voel nie."
As sy eendag oud is sal sy graag die Griekse boodskap van Philotima wil onthou. "Dit beskryf die motivering om die regte ding te doen en om altyd trots te wees op jou gemeenskap en jou vriende deur ’n doelgerigte lewe met integriteit en nederigheid te lei."
Kitsvrae:
- Gunsteling kos? "My ma se Griekse Kritharaki (ryspasta- en hoendegereg met ’n tamatie-basis)."
- Slegste gewoonte? "Ek’s ongeduldig."
- Beste gewoonte? "Ek maak lysies van alles."
- Wat is die verskil tussen goeie werk en uitstekende werk? "Goeie werk is om alles te doen wat nodig is om goed te presteer. Uitstekende werk is om meer te doen as wat van jou verwag word, sonder om gevra te word."