Skip to main content
Ontmoet Rohan Hamman: #MyTygerMaties60

Ontmoet Rohan Hamman: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
14 Oktober 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Rohan Hamman.

Rohan Hamman beskryf homself as ’n hardwerkende Christen wat nie terugstaan vir ’n uitdaging nie. Hy is lief vir die bosveld, sy pa se steak en tjips, jag, visvang en rugby. En as hy R5 miljoen in die bank gehad het, sou hy dit gebruik om vir homself ’n klein plaas in die Karoo of in die Bosveld te koop.

Maar vir eers is Hamman ’n inwoner van Huis Kerkenberg wat bykans klaar is met sy eerste jaar van studies.

Hamman, wat MB,ChB studeer, hoop om oor tien jaar ’n gekwalifiseerde dokter te wees wat saam met Dokters sonder Grense (MSF) werk doen iewers in ’n plattelandse gebied. Sy droomwerk is egter om ’n hospitaal in die Namibiese platteland te besit.

“Ek hou daarvan om ander mense te help,” sê hy as jy hom vra wat sy beste eienskap is. Hy probeer om sy lewe voluit te leef en sy lewensleuse is ’n eenvoudige aanhaling van die Amerikaanse skrywer Natalie Babbitt: “Moenie die dood vrees nie, maar eerder die ongeleefde lewe.”

In ’n neutedop:

  • Wie of wat motiveer jou? “My suster. Sy het my geleer dat ’n mens jou eie lot kan bepaal.”
  • Laaste boek wat jy gelees het? “Recce deur Koos Stadler.”
  • Beste wenk vir fiks bly? “Oefen omdat jy daarvan hou, nie omdat jy moet nie.”
  • Wie is volgens jou suksesvol? “Enigiemand wat tevrede is met wat hy doen en wat ’n verskil maak in die samelewing.”
  • Verskuilde talent? “Ek skryf van tyd-tot-tyd liedjies.”
  • Kan jy kosmaak? “Ek braai ’n goeie steak.”