
Ontmoet Kyle Goosen: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Kyle Goosen.
Deeltydse gholfspeler. Deeltydse kitaarspeler. Voltydse student. Dit, asook sy liefde vir kos, sy vriende, sy familie en vir Jesus, is woorde waarmee eerstejaar MB,ChB-student Kyle Goosen homself beskryf.
Hoewel Goosen sê ’n mediese loopbaan is die enigste een waarin hy homself kan sien, is sy droomwerk om bedags dokter te kan wees en saans as kitaarspeler op te tree. Daarom is dit ’n goeie ding dat hy sy vingers vlytig hou deur kitaar te oefen as hy sukkel om te studeer. Dan kan sy gangmaats in Meerhoff dalk hoor hoe hy rock-liedjies deur sy gunsteling kunstenaars, die Beatles en Pink Floyd, op sy snare laat sing.
Maar Goosen sukkel darem nie té gereeld om te swot nie en probeer om elke dag tussen twee en vyf ure agter sy boeke deur te bring. Sy studiewenk aan ander studente is om vooruit te beplan en nie toe te laat dat jy meegesleur word in die stroom wat ander skep nie. “Maar ek het dit self nog nie heeltemal bemeester nie,” skerts hy.
Sy boodskap aan die res van die kampus is eenvoudig: “Hou aan om hard te werk, en streef voortdurend na selfverbetering.”
Kyle in ’n kits:
- Wat sal jy op ’n reuseadvertensiebord skryf? “Maak die res van jou lewe die beste van jou lewe.”
- As jy ’n dier was, wat sou jy wees en hoekom? “’n Kat. Dit lyk asof hulle lekker rustige lewens lei.”
- Wat is jou beste gewoonte? “Ek gebruik my veiligheidsgordel.”
- Verskuilde talent? “Ek weet hoe werk verkeersirkels.”
- Wat sou jy in Suid-Afrika verander as jy kon? “Ontslae raak van armoede deur middel van opvoeding.”