Skip to main content
Ontmoet Kirstin Sylvester: #MyTygerMaties60

Ontmoet Kirstin Sylvester: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
28 Oktober 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Kirstin Sylvester.

“Moenie ophou totdat jy trots is nie.” Dit is die boodskap wat Kirstin Sylvester op ’n reuse adevertensiebord sou sit as kon.

Sylvester, ’n 23-jarige eerstejaar en BSc Dieetkundestudent, het eers ’n BA-graad in sielkunde van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit verwerf en toe besluit om ’n ander rigting in te slaan. Sy was gemotiveerd om dieetkunde te studeer omdat sy glo dit het die vermoë om mense se lewenskwaliteit te verbeter. “Dieetkunde gaan daaroor om mense te bemagtig deur middel van kennis oor kos en voeding.”

Sy sê die jaar was akademies uitdagend, maar ook baie bevredigend. “Elke lesing is ’n blik in die wonderlike beroep wat voorlê.”

Sy dink die grootste uitdaging wat dieetkundiges tans moet oorkom, is al die dieet- en voedingsraad op die internet en sosiale media. “Inligting is vrylik beskikbaar, maar nie altyd betroubaar nie.”

Alhoewel Sylvester nog nie ’n duidelike idee het van waar sy haarself oor 10 jaar sien nie, maak die moontlikhede haar opgewonde. “Daar is gedurig nuwe navorsing in die veld en solank as wat ek voortdurend kan leer en myself druk om die beste dieetkundige te wees wat ek kan wees, sal ek gelukkig wees.”Vinnige feite:

  • Sy het ’n kleintjie dood aan mense wat hard kou en slurp.
  • Haar tannie, Nicky Newton-King, is ’n US-alumna en tans die hoof-uitvoerende beampte van die Johannesburgse aandelebeurs (JSE).
  • In haar vrye tyd ontspan sy graag deur met haar twee Pomeranian-honde op die Seepunt-promenade te gaan stap.
  • Selfs dieetkunde-studente hou van sjokolade. Sylvester sê sy is mal oor bak, veral haar Flake-en-kersie sjokoladekoek.