
Ontmoet Dylan Barnard: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Dylan Barnard.
Dylan Barnard hou van gholf, Nieu-Seeland en Prof Willie Pienaar. Hy glo etiese gedrag is dokters se grootste uitdaging en oor 10 jaar sien hy homself met ’n mooi vrou aan sy sy, besig om lewens te red.
Barnard is tans ’n eerstejaar MB,ChB-student aan die Universiteit Stellenbosch (US) en loop in die voetspore van beide sy pa en sy oupa wat ook húl MB,ChB-grade by die US verwerf het.
“Dit is ’n beroep wat voortdurend ontwikkel en nuwe uitdagings gee, en ek het nooit ’n tweede opsie gehad nie,” vertel hy.
Barnard het verlede jaar met sewe onderskeidings gematrikuleer van Hoërskool Outeniqua in George en het ook op skool nasionale kleure in tweekamp en swem verwerf.
Hoewel Barnard glo goeie werk is die resultaat van die ure wat jy aan iets spandeer, vat hy nie die lewe té ernstig op nie. “Ek het ’n sin vir humor.” Vinnige vrae
- Droomwerk? “Om eendag ’n bekende chirurg te wees.”
- Wat sal jy doen met R5 miljoen? “My studies klaar betaal en die res in ’n belegging sit.”
- En met R50? “’n Tramezzini by die TSS koop.”
- Gunsteling musiekkunstenaar? “Ed Sheeran en James Bay.”
- Wie beskou jy as suksevol? “My pa. Hy is gelukkig met sy lewe en hy dra ’n goeie waardesisteem oor aan sy kinders.”