
Ontmoet die 2019 Voortreflike Onderrig-wenner van Lettere en Sosiale Wetenskappe
Sy sien die Uitgelese Opvoerder-toekenning wat sy vanjaar opgeraap het, as erkenning vir die moeite wat sy met die ontwerp van haar leerplanne gedoen het, sê dr Taryn Bernard van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.
Die Universiteit Stellenbosch Toekennings vir Voortreflike Onderrig, wat in 2017 bekendgestel is, gee erkenning aan US-dosente in twee kategorieë, “Uitgelese Opvoeder" en “Ontwikkelende Opvoeder", en word gegrond op hul ondervinding en leierskap op die gebied van onderrig en leer.
Deelnemers moes 'n portefeulje indien waarin hulle hul denke oor en bewys van vier hoofonderdele uiteensit: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook 'n aanduiding gee van die lesse wat hulle op hul reis om uitnemende opvoeders te word, geleer het.
Met elf jaar in die onderwysberoep op haar kerfstok, beklemtoon Bernard die belangrikheid vir dosente om aandag te gee aan die probleme wat studente ondervind wanneer hulle universiteit toe kom en aan die ondersteuningsmeganismes wat gebruik kan word om studente te help.
Hoekom het jy opvoeding as 'n beroep gekies?
“Soos baie ander akademici seker, het ek navorsing as 'n loopbaan gekies en die onderrigdeel was iets wat ek nodig gehad het om dit te kan doen. Aan die begin was ek nie 'n goeie dosent nie; ek was skaam en groot klaskamers het my geïntimideer. Namate ek egter gemakliker begin voel het en my eie onderrigstyl ontwikkel het – wat baie rondbeweeg en vrae en skryf op die bord behels, het ek onderrig as 'n baie belangrike deel van my werk begin sien."
Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan sover?
“Ek is baie lief vir reis na ander lande. Een van my groot hoogtepunte vanjaar was toe ek na Kenia gereis het om 'n kursus in kritiese diskoersanalise by die Universiteit van Nairobi aan te bied. Om kritieke metodes van taalontleding vir 'n klas tweedetaal Engelse sprekers aan te bied, wil gedoen wees. Maar die kursus is goed ontvang en op die ou einde het ons almal iets oor kultuur en kommunikasie van mekaar geleer."
Wat was van jou grootste loopbaanuitdagings?
“Dit was nog altyd 'n groot uitdaging vir my om aan 'n uitgebreide program te werk. Ongelukkig bly hierdie programme meestal 'n ongewenste deel van die Suid-Afrikaanse hoëronderwysstelsel, wat beteken dat ek dikwels mense moet motiveer om die tersaaklikheid en belangrikheid van hierdie programme, asook die sleutelrol wat dit speel om die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika te verander, in te sien.
Waarom het jy vir hierdie toekenning ingeskryf?
“Ek het besef dat dit vir my as jong akademikus belangrik is 'n onderrigportefeulje te hê. Die geleentheid om 'n toekenning te verower was 'n bykomende pluspunt."
Wat beteken dit om die Uitgelese Opvoeder/Ontwikkelende Opvoeder-toekenning te wen?
Ek beskou dit as 'n reuseprestasie om die Uitgelese Opvoeder-toekenning vir 2019 te wen, veral omdat ek nog 'n vroeë loopbaan navorser is. Dit gee vir my erkenning vir al my harde werk om my kurrikula te ontwerp, vir die manier waarop ek klasgee. Dit is ook erkenning vir my kennis op die vakgebied van onderrig en leer. Ek dink dit is belangrik dat dosente aandag sal gee aan die moeilikhede wat studente ondervind wanneer hulle aan die universiteit begin studeer, asook aan die meganismes wat ons kan gebruik om hulle in hierdie proses te ondersteun. Ek sien die toekenningstelsel as 'n manier om erkenning te gee aan al die harde werk en tyd wat dit verg om 'n goeie opvoeder te wees."
Watter invloed sal hierdie toekenning op jou onderrigloopbaan vorentoe hê?
“Dit was 'n reusetaak om 'n onderwysportefeulje van die grond af op te bou. Nou is dit iets wat ek bygewerk moet hou – 'n “lewende dokument". Ten einde dit behoorlik te doen, moet ek altyd my onderrigfilosofie in gedagte hou, hoe dit met die verloop van tyd verander en hoe ek dit in die klaskamer toepas. Dit sal beslis 'n baie groot invloed op my onderwysloopbaan vorentoe hê."
Wanneer jy nie besig is om klas te gee nie, waarmee hou jy jouself besig?
“Ek het talle stokperdjies – te veel om op te noem. Ek luister graag na musiek. Wanneer ek 'n blaaskans nodig het, stap ek oor ons pragtige kampus om 'n koppie koffie te kry. Ek voel altyd baie dankbaar om in so 'n mooi omgewing te kan werk."
Wat hoop jy sal jy vir jou studente kan leer?
“Dit is vir my 'n baie lonende ondervinding om studente oor die ingewikkeldheid van taal te leer – hoe ons dit gebruik om ons eie identiteit en die identiteite van ander op maniere te bou wat beide bemagtigend en ontmagtigend kan wees. Die term hiervoor is kritiese taalbewustheid en ek dink dit is 'n vaardigheid wat elkeen moet hê."
Waar sien jy jouself oor die volgende vyf jaar?
Ek het vanjaar met 'n reis in kodering en die verkenning van kwantitatiewe data begin – dit is 'n reis wat my liefde en waardering vir kwalitatiewe data opnuut laat herleef het. Oor vyf jaar sal ek graag 'n oorlangse etnografiese studie wil voltooi wat die beweging van 'n spesifieke groep meertalige of multikulturele studente deur die hoëronderwysstelsel boekstaaf. Daar is nog so baie om te leer oor diversiteit en veerkragtigheid, en so baie hiervan is net in die stories wat studente oor hulself en hul wêrelde vertel, te vinde.
*Bogenoemde kandidaat sal haar toekenning by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.
Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na [email protected].