
Ontmoet Cecile de Wet: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Cecile de Wet.
Eerstejaar B Arbeidsterapie-student Cecile de Wet wil hoop gee vir mense in wanhopige situasies. “Ek glo as ’n arbeidsterapeut sal ek mense kan help om die lig aan die einde van hul tonnel te sien en te bereik,” verduidelik sy haar rede vir haar gekose professie.
De Wet is gretig om die vaardighede te leer wat haar instaat sal stel om probleme op te los in haar toekomstige beroep. Sy dink die grootste uitdaging vir arbeidsterapeute is die feit dat elke pasiënt ’n unieke stel probleme het, en elke persoon individueel benader moet word. “Daar is nie ’n enkele stel reëls wat jy net kan volg nie.”
Oor tien jaar sal De Wet graag in ’n posisie wil wees waar sy ander kan help om die lewe volkome te kan geniet. Haar lewensleuse sluit aan by dié wens wat sy vir haarself en ander het: “Wees lief vir die lewe wat jy leef, en leef die lewe wat jy liefhet.”
Nóg vrae…
- Watter boodskap sal jy aan die kampus wil oordra? “Moenie wag vir ‘eendag’ om jou lewe te laat tel nie. Begin nou.”
- Gunsteling kos? “Falafel in ’n pitta.”
- Hoe voel jy oor sosiale media? “Ons hou almal daarvan om vermaak te word en verbind te wees met mekaar, maar dit kan maklik die kwaliteittyd wat jy saam met die mense naaste aan jou het, steel.”
- Wat is volgens jou die doel van die lewe? “Om God te ken en Hom bekend te maak aan ander.”
- Top tydsbestuurwenk? “Bly gefokus.”