
Ontmoet Annemarie Wust: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Annemarie Wust.
Annemarie Wust droom om eendag op ’n plattelandse dorpie te woon waar sy halfdag as dokter sal werk en smiddae die skool se eerste hokkiespan afrig. Sy het duidelik ’n groot liefde vir dié sport en was sy verlede jaar nie net hoofmeisie van Hoërskool Stellenberg in Belville nie, maar ook die eerstespan hokkiekaptein. Sy was selfs a lid van die Westlike Provinisie se hokkiespan.
Sy is tans ’n eerstejaar MB,Chb-student aan die Universiteit Stellenbosch en speel steeds graag hokkie.
Wust het klaarblyklik die regte balans tussen sport, akademie en kultuur gevind – op skool was sy ook deel van die provinsiale debatspan.Wust het besluit om ’n mediese-rigting in te slaan weens haar belangstelling in die menslike liggaam. “Hoe die mens aanmekaar geweef en hoe elke klein dingetjie in die liggaam sy plek het en saamwerk om ons optimaal te laat funksioneer, fassineer my,” verduidelik sy.Meer oor Annemarie:
- Wie is volgens jou suksesvol en hoekom? “Moeder Teresa. Ek dink sy het besef waaroor die lewe gaan deur haarself ten volle diensbaar te stel vir ander.”
- Wat jou lewensleuse? “Maar die wat op die Here vertrou kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke.”
- Slegtste gewoonte? “Ek drink suiker in my koffie.”
- Beste gewoonte? “Ek drink nie suiker in my tee nie.”
- Gunsteling fliekkarakter en hoekom? “Captain Jack Sparrow [van die Pirates of the Caribbean-faam]. Is dit enigsins nodig om te verduidelik?”