Skip to main content
Onderwysstudente bring vyf Paralimpiese medaljes huis toe

Onderwysstudente bring vyf Paralimpiese medaljes huis toe

Pia Nänny
22 September 2016

Studente in die Fakulteit Opvoedkunde wat aan die Paralimpiese Spele deelgeneem het, het met vyf medaljes na Suid-Afrika teruggekeer – drie goud, een silwer en een brons.

Charl du Toit, wat besig is met sy honneursgraad in onderwysbestuur aan die Universiteit Stellenbosch (US), het met twee goue medaljes na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is die nuwe Paralimpiese kampioen in die 100m en 400m in die T37-klas en het ook die wêreldrekord in die 100m en die Paralimpiese rekord in die 400m verbeter.

"Dit was 'n wonderlike ondervinding en die mense wan Rio was fantasties. Ek is baie dankbaar," het hy met sy aankoms gesê.

Dyan Buis, ook 'n honneurstudent in die Fakulteit Opvoedkunde, het goud verower in die 400m (T38) en brons in die verspring.

BEd-student Anruné Liebenberg het 'n silwermedalje verower in die 400m (T47).

Anruné se pa Rudi en broer Ruanne het haar met 'n banier met die woorde 'Welcome back our champ' verwelkom. "Ek is verby trots," het pa Rudi gesê. "Nie net op haar nie, op almal van hulle."

Charl, Dyan en Anruné is almal deel van 'n oefengroep wat deur dr Suzanne Ferreira van die Departement Sportwetenskap (geleë binne die Fakulteit Opvoedkunde) afgerig word.

Nóg 'n BEd Honneurstudent, die Para-fietsryer Roxy Burns, het aan die 500m-tydren en die 3 000m individuele agtervolgingitem op die baan deelgeneem.

Al vier hierdie studente-atlete is IMAS-beurshouers. IMAS is die Engelse akroniem vir Integrated Medicine and Science. Hierdie beurs word deur die Hoëprestasie-eenheid geleë in Maties Sport toegeken en fokus daarop om 'n ondersteuningstruktuur vir hierdie atlete te skep om hul prestasie te verbeter.

Prof Maureen Robinson, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het die studente-atlete gelukgewens en hulle bedank dat hulle uitstekende ambassadeurs was.

"As 'n fakulteit probeer ons ons bes om studente-atlete wat op die hoogste vlak van hul sportkode presteer, by te staan. Ons is veral trots op hierdie studente vir wat hulle op die wêreldverhoog bereik het."

Foto: Dyan Buis

Fotokrediet: Peartree Photography