
Onderwaterhokkie-wêreldkampioenskap in Coetzenburg-swembad aangebied
Onderwaterhokkiespelers van 17 verskillende lande het van 23 Maart tot 2 April in Stellenbosch bymekaargekom vir die 19de CMAS Onderwaterhokkie-wêreldkampioenskap wat in Coetzenburg se supermoderne Olimpiese grootte swembad aangebied is.
Altesame 44 spanne het in vier verskillende afdelings deelgeneem: Elite (mans en vroue) en Meesters (mans en vroue).
Australië het drie van die vier beskikbare titels gewen terwyl Suid-Afrika se Elite Vroue Nieu-Seeland met 4-3 in die finaal geklop het om as wêreldkampioene in daardie kategorie uit die stryd te tree. Die SA Meestersvroue het silwer gewen ná hulle in die finaal teen Australië verloor het.
Suid-Afrika se mansspanne (elite en meesters) het albei in die top8 geëindig.
Volgens Chantelle Hayes, 'n verteenwoordiger van Sports4U wat bygestaan het met die reëlings, het hulle positiewe terugvoering van deelnemers ontvang oor die dorp en Coetzenburg-swembad as 'n venue.
Suid-Afrika het al twee keer vantevore die Onderwaterhokkie-wêreldkampioenskap aangebied: in 1996 en 2008.
Die 20ste CMAS Onderwaterhokkie-wêreldkampioenskap sal in 2018 deur Kanada in Quebec aangebied word.
Foto's: Franna Lombard