
Onafhanklike kommissaris gaan Heemstede-voorval ondersoek
Verklaring deur prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier
Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan ʼn onafhanklike kommissaris aanstel om die instelling se hantering van die gebeure by die Heemstede vrouekoshuis na ʼn beweerde “blackface” voorval twee weke gelede, te ondersoek. (Lees die vorige mediaverklaring hier.)
Ek en my Bestuur het kennis geneem van die trauma wat die insident veroorsaak het by veral die twee vrouestudente en hul ouers, maar ook ander studente en personeel. Hieroor het ek en my Bestuur ons spyt uitgespreek.
Ons het ook kennis geneem van die wye reaksie in die media, op sosiale media en van ʼn groot aantal mense wat aan die Universiteit geskryf het in verband met aantygings teen die instelling oor ons hantering van die kwessie.
As universiteit is ons konsekwent daartoe verbind om regverdig, effektief en deursigtig op te tree in ooreenstemming met die Universiteit se waardes van uitnemendheid, innovasie, medeverantwoordbaarheid, empatie en diensbare leierskap. Self-evaluering en kritiese analise vorm deel van die akademiese etos van die Universiteit en ons sal in oorstemming hiermee voortgaan om die mees konstruktiewe proses te vind om gebeure soos dié te hanteer.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die Bestuur besluit het om ʼn onafhanklike kommissaris aan te stel om die onderskeie fasette van die voorval en die Universiteit se hantering van die gebeure by Heemstede te ondersoek. Die kommissaris sal dan sy of haar bevindinge tesame met aanbevelings aan die Bestuur voorlê
Verdere inligting sal bekendgemaak word sodra die kommissaris die aanstelling aanvaar het.