
Om die onmoontlike reg te kry – inspirerende woorde deur Lewis Pugh aan die DTTS
Die wêreldbekende avonturier-swemmer, Lewis Pugh, het personeel van die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch (US) geïnspireer en aangemoedig om saam te werk om die uitdagings van MIV/vigs aan te pak.
"Ek wil aan julle hulde bring vir die werk wat julle doen. As MIV-beraders werk julle aan een van die grootste probleme van ons generasie," het Pugh tydens ʼn spanbousessie by die US aan ongeveer 400 personeellede van die DTTS gesê.
Pugh was een van die eerste mense om in die ongure toestande en yskoue waters van die Noordpool, in die Himalajas en in die Antarktiese see te swem. As Beskermheer van die Oseane vir die Verenigde Nasies, het hy ʼn passie vir die bevordering van projekte wat ten doel het om die wêreld se oseane te beskerm. Hy het al ʼn langafstand-swemsessie in elke oseaan van die wêreld voltooi.
"Mense sê dinge is onmoontlik, maar dit is nonsens. As jy durf, vasberadenheid en gees het, goeie beplanning en voorbereiding doen en skouer aan die wiel sit, is jy daartoe in staat om dinge te bereik wat mense as onmoontlik beskou."
"Net soos wat Nelson Mandela en Ahmed Kathrada bereid was om die belangrikste probleem van hulle generasie – apartheid – aan te pak, is julle as MIV-beraders besig om een van die grootste probleme wat Suid-Afrika te bowe moet kom, naamlik MIV, aan te pak.
Pugh het personeel wat betrokke is by die HPTN 071 (PopART)-studie aangemoedig om gemotiveerd te bly om hulle doel van MIV-voorkoming te bereik. Tydens hulle werksaamhede in gemeenskappe moet personeel dikwels in alle weersomstandighede werk, van snikhete dae en stormsterk winde tot gietende reën.
Pugh het ook die gevare van klimaatsverandering beklemtoon en genoem dat dit elke persoon op die planeet sal beïnvloed.
Personeel het gesê hulle voel geïnspireerd en gemotiveerd deur Pugh se toespraak en ʼn video van hom waar hy sy trotseer en in die ysige see by die Noordpool aandurf.
Pugh het gesê dit was vir hom ʼn inspirasie om die personeel van die DTTS toe te spreek omdat hy baie respek het vir die beskermheer van die sentrum, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu.
Blia Yang, een van die projekbestuurders by die DTTS wat die geleentheid gereël het, het gesê sy is baie dankbaar dat Pugh tyd afgestaan het om almal te kom inspireer.
"Hy is ʼn meesterstorieverteller en het stories ingeweef wat inspirerend, hartverskeurend en baie mooi was. Hy het dit op ʼn manier vertel waarmee ons personeel - wat die reuse taak het om MIV in ons gemeenskappe te help voorkom - hulle kon vereenselwig."
DTTS-personeel se kommentaar oor Lewis Pugh se toespraak
Anele Klaas, MIV-versorger in die gemeenskap (MIV-berader): Dankie aan Lewis vir sy motivering. Ek voel so bevoorreg om hom te kon ontmoet. My hoogtepunt was toe hy gesê het: "Daar is niks so kragtig soos ʼn vaste voorneme nie."
Jerry Molaolwa, Distriksbestuurder: Dankie aan Lewis wat ons daaraan herinner het dat enigiets gedurende moeilike tye moontlik is.
Francoinette Esau, Distriksbestuurder: MIV is die uitdaging van ons generasie. Ons besef ons doen iets besonders deur aan die HPTN 071 (PopART)-studie deel te neem. Dit is baie inspirerend.
Yvonne Saunders, Terreinbestuurder: Dit was inspirerend om te hoor hoe hy sy te bowe gekom het. Vrees het hom amper oorweldig, maar hy het bo dit uitgestyg.
Jackie Hlalukana, Distriksbestuurder: Ek het baie daarvan gehou dat hy gesê het hy word ook deur ander mense geïnspireer... dat elke persoon in sy span in die Arktiese see gehelp het om hulle doel te bereik. Ons kan ons doelwitte saam bereik.
Elize Batist, Instrukteur: Dit was vir my diepsinnig. Hy het dit in verband gebring met die epidemie wat ons in die gesig staar. Ons is almal deel van die stryd en hy het vir ons vaardighede gegee om geïnspireerd en gemotiveerd te bly.
Thabisa Bike, MIV-versorger in die gemeenskap: Hy het my herinner aan my doelwit om om die MIV-koers in my gemeenskap te help verlaag. Ek wil elke dag bewys dat dit moontlik is om MIV-infeksies te verminder.
Confidence Mohlafuno, MIV-versorger in die gemeenskap: Dit was baie emosioneel. Ons moet leer dat niks onmoontlik is nie.
Wendy Phaliso, MIV-versorger in die gemeenskap: As jy daaroor kan droom, kan jy dit doen.
Nangamso Mzondi, MIV-versorger in die gemeenskap: Ek het geleer jy moenie altyd luister na wat ander mense sê nie. Glo in jouself. Vertrou in jouself.
Ricardo Felix, senior Logistieke-beampte: Ek het koue rillings gekry deur net te luister na Lewis se vertellings oor wat hy gedoen het. Sy toespraak was kragtig en het moraal bevorder.
Foto: Personeellede van die Desmond Tutu TB-sentrum poseer vir ʼn fotogeleentheid saam met avonturierswemmer, Lewis Pugh, na afloop van die geleentheid