Skip to main content
Nuwe raad gee nagraadse studente ‘n ‘stem’

Nuwe raad gee nagraadse studente ‘n ‘stem’

FMHS Marketing & Communications
08 November 2016

​Die Universiteit Stellenbosch se heel eerste studenteraad vir nagraadse studente is onlangs gestig by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Die eerste Tygerberg Nagraadse Studenteraad (TNSR) is in Augustus 2016 verkies, en het hul termyn in September begin.

"Die raad se visie is om 'n inklusiewe nagraadse gemeenskap te skep wat streef na holistiese sukses, deur 'n missie om eenheid te koester en studente-ontwikkeling te bevorder deur innoverende en verantwoordelike leierskap," sê die TNSR-voorsitter, Ascentia Seboko. Volgens haar word akademiese sukses nie net bepaal deur die werk wat nagraadse studente vir hulle navorsing doen nie, maar word dit gerugsteun deur emosionele-, geestelike- en fisiese welstand.

"Die TNSR wil graag 'n meer inklusiewe en aanvarende gemeenskap aanmoedig, waar alle studente saamwerk om die sukses van elke individuele nagraadse student te bevorder," sê Seboko. Hul poog om dit te bereik deur 'n verskeidenheid werkswinkels en aktiwiteite aan te bied om nagraadse studente te help om hul studies, werk en tuislewe te balanseer.

Een van die eerste kwessies wat die TNSR aanspreek, is om die rol van die student en studieleier uiteen te sit. Die TPSC werk tans saam met die fakulteitsbestuur om 'n memorandum van ooreekoms saam te stel wat studente en studieleiers sal onderteken met die aanvang van nagraadse studie om verwagtinge te bestuur, en beide die student en die studieleier te beskerm.

"Dit was 'n uitdaging vir nagraadse studente om 'n platform te vind waar hulle hul stemme kan laat hoor. Na aanleiding van hierdie behoefte, sal die TNSR 'n nagraadse studenteforum hou op 1 Desember 2016 waar huidige kwessies wat verband hou met nagraadse studente en tersiêre instansies regoor die land, bespreek sal word," sê Seboko.

Sedert die begin van hul ampstermyn was die TNSR al by verskeie projekte betrokke:

#FeesMustFall-opname

'n Opname is gedoen om die menings van nagraadse studente te bepaal oor die aktiwiteite wat op kampus plaasgevind het wat verband gehou het met die #FeesMustFall-beweging. Die uitslae van die opname is bespreek in vergaderings met die dekaan se bestuurspan en die Tygerberg Studenteraad. "Vir die eerste keer op hierdie kampus het nagraadse studente hul stem laat hoor," sê Seboko.

"Kom ons Braai"-sosiale geleentheid

Die TNSR het onlangs 'n braai gehou waar die nagraadse gemeenskap mekaar beter leer ken het. Die geleentheid het gelei tot die daarstelling van 'n netwerkplatform vir nagraadse studente op kampus.

Santa Shoebox-projek

Met behulp van 'n TNSR-inisiatief het nagraadse studente deelgeneem aan die Santa Shoebox-projek wat skoenbokse met skryfbehoeftes en Kersgeskenke aan minderbevoorregte kinders uitdeel. In totaal is 16 bokse geskenk deur nagraadse studente en van hulle was ook as vrywilligers by die afleweringspunt waar hulle gehelp het om skoenbokse na te gaan voordat dit aan die kinders gestuur word.

"Die TNSR is nog in sy kinderskoene en maak tans staat op die ondersteuning van nagraadse studente en personeel op kampus. Ons hoop dat ons werk sal bydra tot die optimale sukses van nagraadse studente en die universiteit sal help om sy doelwit te bereik om 'n wêreldklas-navorsingsinstansie te wees," sê Seboko.

Vir meer inligting oor die TNSR of opkomende geleenthede:

Stuur 'n e-pos aan: [email protected]; [email protected] of [email protected]

Facebook: http://www.facebook.com/TygerbergPostgraduateStudentCouncil

Twitter: @tpsc_info

Instagram: @tpscinfo

Foto:

Agter: Chané Bain (media en bemarking), Lauren Paterson (gemeenskapsinteraksie), Ascentia Seboko (voorsitter), Yessica Fitzermann (beleideenheid) and Simoné Nel (Hons- en MSc-verteenwoordiger).

Voor: Hygon Mutavhatsindi (PhD-verteenwoordiger), Kopano Dube (studente ontwikkeling), Eduard Roos (finansiële beampte), Taimé Sylvester (ondervoorsitter), Karmistha Poovan (studente welwees) and Wentzel Dowling (MMed-verteenwoordiger). Inlas: Roxanne Higgitt (sekretaris).