
Nuwe projek slaan die trom vir studente se geestesgesondheid
“Wanneer dit kom by ons as mense, is daar ʼn ritme in alles wat ons doen. Ons hartklop, ons asemhaling, ons ingewandsfunksie, ons bewegings, aktiwiteite en rus, die siklus van dag en nag, die seisoene … ons hele lewe is deel van ʼn reëlmatige pols en patroon. Wanneer ons en die dinge rondom ons in ritme is, is ons gesond en floreer ons. Maar wanneer die ritmes nie meer klop nie, verloor ons tred en word ons siek."
Só sê Arifa Sheik Ismail, ʼn dosent in arbeidsterapie aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, wat onlangs ʼn nuwe projek geloods het wat tromme-slaan as intervensie vir die ondersteuning van studente se geestesgesondheid en welsyn ondersoek.
“As klinikus gebruik ek ritmiese aktiwiteite vir volwassenes met fisieke gestremdhede en kinders met leerprobleme met groot sukses, en ek glo dat die gebruik van ritmiese aktiwiteite gunstig is vir die gesondheid en welstand van almal wat daarmee te doen kry. Ek is opgewonde om hierdie voordele verder te ondersoek met die nuwe trom-inisiatief by die Afdeling Arbeidsterapie, en om my bevindings volgende jaar in my PhD op te neem."
Volgens Sheik Ismail is die tromprojek vroeër vanjaar van stapel gestuur met die ondersteuning van die afdelingshoof, prof Nicola Plastow, en sommige van die tweedejaarstudente in Arbeidsterapie wat vrywillig aan die sessies deelgeneem het.
"Ons het begin met vyf sessies oor vyf weke. Ek het besluit om met die tweedejaar-arbeidsterapiestudente te begin aangesien die eerstejaar-studente meestal op die Stellenbosch-kampus is en die derde- en vierdejaar-studente by talle kliniese werkplekke regoor die Wes- en Noord-Kaap geplaas is. Dit is egter my droom om op die ou end gereelde sessies aan al ons studente by die fakulteit aan te bied en ek hoop dat my PhD my sal help om dit te beplan en te doen!"
Alvorens die projek geloods is, het Sheik Ismail saam met drie van haar kollegas 'n kursus vir tromslaan-fasilitering voltooi. “As projekkoördineerder werk ek saam met 'n djembe tromslaan-fasiliteerder, Bevil Spence, en ons maak gebruik van sy Drum-360-metode – 'n tegniek wat ritmies-gebaseerde aktiwiteite gebruik in 'n leer- of terapeutiese omgewing. Terwyl die hooffokus van my werk die tromslaansessies met die studente op Tygerberg-kampus is, sal een van my kollegas ook tromslaansessies aanbied vir ʼn groep kinders en volwassenes by die Bishop Lavis Rehabilitasiesentrum hier naby ons."
Volgens Sheik Ismail begin al hoe meer arbeidsterapeute by geestesgesondheidsfasiliteite tromme suksesvol gebruik in hul groepwerk met pasiënte.
“Navorsing het getoon dat kuns (en musiek is 'n vorm van kuns) ons dopamienvlakke ('n goed-voel neuro-oordragstof) verhoog wat veelvuldige voordele inhou," verduidelik Sheik Ismail. “Dit verhoog konsentrasie en dryfkrag, en stimuleer die skepping van nuwe neurale verbindings wat ons help om te leer, terwyl depressie en selfs veroudering afgeskrik word. Studente se gesondheid en welstand was my nog altyd baie na aan die hart en ek sien uit daarna om te leer hoe die gebruik van tromme beter uitkomste kan ondersteun."
Foto-erkenning: Arifa Sheik Ismail en Bevil Spence