
Nkonki deel haar Gesondheidskommissie ondersoek-ervaring
Dr Lungiswa Nkonki is in 2014 aangestel as ʼn paneellid van die Kompetisiekommissie van Suid-Afrika se ondersoek in private gesondheidsorg, en het die geleentheid met ope arms verwelkom.
Nkonki – ʼn senior-dosent in die Departement Globale Gesondheid – het vir jare lank belanggestel in openbaregesondheid en was baie bewus van die ongelykhede in toegang tot gesondheidsorg in Suid-Afrika.
Nkonki, wat vir nagraadse studente klasgee in Ekonomiese Evaluasie in Gesondheidsorg, was deel van die vyfman-paneel met die voormalige Hoofregter Sandile Ngcobo as voorsitter, wat die stand van kompetisie in die private gesondheidsorg-mark ondersoek het. Die ondersoek het sy finale verslag op 30 September vanjaar bekendgemaak.
Die sesjaarlange proses het die oorweging van geskrewe verslae en terugvoer van meer as 175 belanghebbendes, insluitend hospitaal- en doktersgroepe en mediesefondse behels, asook openbare verhore.
Ter verduideliking van hoekom sy deelname aan die ondersoek aangegryp het, sê Nkonki: “Die ongelykhede in gesondheidsorg het ʼn invloed op mense se lewens. Ek het vir ʼn lang tyd al ʼn behoefte gehad om op die een of ander manier by te dra om die ongelykheide in gesondheidsuitkomste in Suid-Afrika te verminder.
“Ideaal gesproke behoort kompetisie laer kostes en meer waarde vir geld vir verbruikers in te hou. Die privaatsektor voorsien net ongeveer in 8.8 miljoen Suid-Afrikaners se behoeftes – en daar is ʼn groot verskil tussen die privaat- en openbaresektore in terme van gesondheidshulpbronne," het sy gesê.
Nkonki is oorspronklik van Port Elizabeth en het in 1998 na die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verhuis waar sy ʼn graad in Geneeskundige Biowetenskappe gedoen het, en daarna ook ʼn BSc-honneursgraad by UWK. Daarna het sy haar internskap by die Health Systems Trust gedoen waar haar belangstelling in openbare gesondheid geprikkel is. Daarna het sy haar Meestersgraad in Openbaregesondheid by die Universiteit van Kaapstad gedoen wat gefokus het op Gesondheidsekonomie.
“Terwyl ek besig was daarmee het ek besef dat my vorige opleiding nie ekonomie ingesluit het nie en dat ek ʼn groter grondslag in ekonomie benodig. Daarom het ek na die Verenigde Koninkryk gegaan waar ek ʼn MSc in Ekonomie by die Universiteit van Sussex gedoen het," het sy gesê. Nkonki het daarna aangegaan om ʼn PhD in Gesondheidsekonomie te doen aan die Universiteit van Bergen.
Sy het verduidelik dat die Gesondheidskommissie-ondersoek (GKO) in die private gesondheidsmark op die been gebring is deur die Kompetisiekommissie “nadat daar opgemerk is dat pryse in die private gesondheidsorg-sektor op ʼn vlak was wat slegs die minderheid van Suid-Afrikaners kan bekostig en dat gesondheidsorg-besteding hoër gestyg het as oorhoofse inflasie."
“Die GKO is die eerste bewysgebaseerde proses in Suid-Afrika wat noukeurig bewyse ingesamel het en die private gesondheidsorg-mark bestudeer het. Ons ondersoek het meer as 43 miljoen individuele pasiënterekords, 11 miljoen toelatings, spesiale navorsingdopdragte, verskeie geskrewe indienings, openbare verhore en seminare ingesluit.
“Die ondersoek het gefokus op hospitale, dokters en befondsers. Deur befondsers bedoel ons mediesefondse wat gesondheidsorg aankope namens lede en die administrateurs en besturende gesondheidsorg-organisasies wat mediesefondse uitkontrakteur."
Die GKO het bevind dat kompetisie in private gesondheidsorg nie werk soos dit moet nie – en dat private gesondheidsorg in Suid-Afrika gekenmerk word deur hoë en stygende kostes, aansienlike oorgebruik en geen waarneembare verbetering in gesondheidsuitkomste nie.
Die ondersoek het ʼn aantal faktore geïdentifiseer wat bygedra het tot die uitkomste, insluitend dat drie hospitaalgroepe – Netcare, Mediclinic en Life – die mark domineer. “Die feit dat ʼn paar firmas die meerderheid van die mark besit is ʼn indikasie dat kompetisie nie effektief werk nie."
Die ondersoek het ook bevind dat daar in Suid-Afrika geen maatstaf is van gehalte in die openbare domein nie en mense weet dus nie of ʼn hospitaal of dokter gehalte diens lewer nie.
Daar is ook bevind dat Suid-Afrika meer as R2.7 miljard (twee persent van die huidige private gesondheidsorg besteding) kan spaar as dit die aantal mense wat by intensiewesorg opgeneem word kan halveer en pasiëntesorg in sale kan verbeter.
ʼn Sleutelbevinding is dat mediesefonds-lede baiemaal nie weet waarvoor hulle betaal nie en nie in staat is om te bepaal of die sorg wat hulle ontvang van goeie gehalte is nie.
Die GKO het ʼn aantal voorstelle gemaak wat, ondermeer, implikasies inhou vir die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Die aanbevelings is daarop gemik om meer kompetisie, deursigtigheid en verantwoordbaarheid te bewerkstellig vir hoe mediesefonds-lede se geld uitgegee word. Dit is veral gemik daarop om kompetisie te verhoog op diensleweringsvlak (hospitale, dokters, en spesialiste).
Nkonki het gesê dit was ʼn “ongelooflike voorreg" om toevertrou te geword het met die ondersoek. “Dit was ʼn nasionale studie met belangrike implikasies. Ons het ons bes probeer om ʼn produk te lewer wat waarde sal toevoeg tot Suid-Afrika, vandag en in die toekom.
“ʼn Hoogtepunt vir my was dat die proses, alhoewel dit robuus en intensief was, ook regtig konsultatief was. Die ondersoek het ʼn platform geword vir ware skakeling."
“Ek is bly dat Suid-Afrika op pad is na universele gesondheidsdekking. Ek het ʼn groot belangstelling in die gesprekke oor die NGV. Die bevindinge van die ondersoek lewer bewyse wat waardevol kan wees vir die ontwerp van die NGV. Die aanbevelings sal, indien dit geïmplementeer word, ʼn groot stap wees in die rigting om ʼn omgewing te skep waar die aankoper – die NGV – aankope sal kan maak van ʼn private gesondheidsorg mark wat kompeterend is met laer kostes en pryse en meer waarde vir geld is vir verbruikers. Ek sal die proses nou dophou."
Onderskrif: Dr Lungiswa Nkonki , ʼn senior-dosent by die Departement Globale Gesondheid, was ʼn paneellid van die Kompetisiekommissie van Suid-Afrika se ondersoek in private gesondheidsorg.
Foto-erkenning: Wilma Stassen