Skip to main content
Nelson Mandela en Ubuntu

Nelson Mandela en Ubuntu

Noloyiso Mtembu
02 Augustus 2019

​Nelson Mandela en Ubuntu

 DIE Universiteit Stellenbosch Museum, in vennootskap met die Nelson Mandela Museum, het op Vrydag, 26 Julie 2019, die vierde jaarlikse Nelson Mandela Kollokwium aangebied. Die kollokwium, met die tema “Nelson Mandela en Ubuntu", het akademici, studente en die algemene publiek verenig in 'n gesprek oor die konsep van ubuntu en hoe dit die lewe van Suid-Afrika se eerste swart president, Nelson Mandela, gevorm het.

 Die afgetrede direkteur van die Afrika-uniekommissie en bestuurslid van die Nelson Mandela Museum, dr Botlhale Tema, het op die kollokwium gesê ubuntu is 'n bestaanswyse waarvolgens mense sosialiseer om ander mense raak te sien en te erken. Dit is nie 'n godsdienstige verskynsel nie, maar 'n geestelike konsep wat mense leer om mekaar met welwillendheid en empatie te omarm.

 Dr Tema het gesê dat Mandela se optrede om sy lewe vir die bevryding van Afrikane op te offer, 'n manifestasie van ubuntu is. Mandela se lewe is 'n voorbeeld van hoe almal menslikheid en welwillendheid kan beoefen. Volgens haar is deel van die aanvaarding van mekaar, die oopstelling van mekaar se ruimtes.

“Ons almal het 'n invloedsfeer, ongeag hoe groot of klein. In watter mate stel ons hierdie sfeer oop om ander te kan insluit?" het sy gevra. “Dit is 'n geleentheid vir die Universiteit Stellenbosch om werklik oop te wees," sê sy.

 Haar sienswyses is deur die tweede spreker, dr Mosa Phadi, 'n navorser in historiese trauma en transformasie by die Universiteit Stellenbosch Museum, bevestig. Sy het aangevoer dat universiteite nie geskei moet word van die gemeenskappe wat hulle bedien nie. Ideaal gesproke moet universiteite gekoppel wees aan die gemeenskappe wat hulle bestudeer, en die gemeenskappe moet dít wat oor hulle geskryf word, kan bevraagteken.

 Dr Phadi het verder gesê dat 'n groot deel van die geskiedenis van die bevrydingstryd in Suid-Afrika nie vertel is nie, en nie vir die breë publiek toeganklik is nie. Sy het verhale van Suid-Afrikaanse helde van die bevrydingstryd vertel, onder meer dié van die stigter van die Pan Africanist Movement, Robert Mangaliso Sobukwe, en die Afrika-taalkundige en akademikus, dr AC Jordan, met wie sy deur die Buro vir Afrika-aangeleenthede in Accra, Ghana, in aanraking kon kom. Dr Phadi het die gemeenskaplikhede in die geskiedenis van die mense van Suid-Afrika en Ghana in hul soeke na selfaktualisering en onafhanklikheid beklemtoon, en die uitsluiting van en aanvalle op Afrikane in Suid-Afrika veroordeel, wat volgens haar 'n gebrek aan begrip vir die eenheid van Afrikane se geskiedenis toon.

 “Ons moet onsself opnuut in Afrika integreer," het sy gesê.

 Die Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Museum, Bongani Mgijima, het gesê die vennootskap tussen die twee museums – die Universiteit Stellenbosch Museum en die Nelson Mandela Museum – “bied 'n platform wat ons in staat stel om oor Madiba se nalatenskap en waardes na te dink."

 “Hierdie unieke vennootskap tussen die twee instansies bevestig ons oortuiging dat museums die ruimte kan word vir kritiese dialoog waarmee ons ons huidige en toekomstige uitdagings die hoof kan bied," het hy gesê.

 Volgens die HUB van die Nelson Mandela Museum, Bonke Tyhulu, is die vennootskap 'n bewys van die samekoms van twee teenoorgestelde kante. Die kontraste lê in die ligging van die museums – die een in 'n Wes-Kaapse dorp met oorvloedige hulpbronne en die ander in 'n minderbevoorregte dorp in die Oos-Kaap – en in die tale wat daar gebruik word, te wete Afrikaans en isiXhosa.

 “Wat dit so spesiaal maak om teenoorgesteldes te wees, is dat ons by mekaar kan leer. Ek nooi die Universiteit om uit die gemaksone te kom en buite hierdie dorp te gaan verken," het Tyhulu gesê.

Foto links na regs: Nellie Thwala (Nelson Mandela Museum), Ricky Brecht (Universiteitsmuseum Stellenbosch), Dr Botlhale Tema (gasspreker), Dr Mosa Phadi (gasspreker), Zintle Mbusi seremoniemeester en Bonke Tyulu: (HUB, Nelson Mandela Museum).