
Navorsingsbefondsing plaas kollig op nablywende TB-bakterieë
Navorsing in mikobakterieë by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het 'n hupstoot gekry van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) in die vorm van 'n befondsingstoekenning ter waarde van R1 miljoen as deel van 'n inisiatief genaamd die Mededingende Ondersteuning vir Ongegradeerde Navorsers.
Die Mededingende Ondersteuning vir Ongegradeerde Navorsers is 'n dissipline-gegronde befondsingsinstrument wat hoofsaaklik basiese navorsing ondersteun as die grondslag van kennisproduksie in die dissiplines van Geestes- en Natuurwetenskappe.
Prof Samantha Sampson, van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, het die befondsing ontvang vir die projek genaamd "Isolasie en karakterisering van Mikobakterieë tuberkulose nablywendes (persisters)".
In die abstrak van die studie verduidelik die navorsers dat ten spyte daarvan dat nuwe data 'n wêreldwye afname in die voorkoms van tuberkulose aandui, die siekte steeds 'n ernstige uitdaging vir openbare gesondheid inhou.
"Een van die hoof-uitdagings is die groot hoeveelheid individue met latente Mycobacterium tuberculosis-infeksie, wat veral kommerwekkend is in die konteks van mede-infeksie met MIV. Nog 'n groot uitdaging is die vereiste vir baie lang en komplekse behandelingsregimens wat benodig word vir algehele sterilisasie van M. tuberculosis-infeksie. Daar word gereken dat dit gedryf word deur sogenaamde 'nablywende'(persister) bevolkings van mikobakterieë, wat 'n middel-tolerante fenotipe toon. Daar word gespekuleer dat hierdie bevolkings in 'n dormante (nie-repliserende) staat bestaan," sê Sampson.
"Inderwaarheid, daar is min begrip oor die fisiologiese staat van mikobakterieë tydens latente infeksie in 'n middel-tolerante toestand. Meer insig in mikobakterieële nablywendheid kan die vermoë bied om groot reservoirs van latente M. tuberculosis-infeksie te teiken, asook om die bestaande lang behandelingregimens vir aktiewe infeksie verkort.
"In hierdie studie poog ons om faktore wat bydrae tot M. tuberculosis-nablywendheid te identifiseer. Ons sal 'n nuwe enkelsel-analise aanwend wat gegrond is op fluoressensie, in samewerking met metodes om die fisiologie van afsonderlike repliserende en nie-repliserende bevolkings te bepaal en te vergelyk," sê Sampson.
Dit bou op werk wat onlangs gepubliseer is (Mouton et al Microbiology - 2016) deur dr Jomien Mouton, 'n nadoktorale navorser in Sampson se groep.