
Natuurwetenskappe vereer beste student
Me. Jana Botha, tans 'n nagraadse student in chemie, het die Fakulteit Natuurwetenskappe se Dekaansmedalje vir 2016 ontvang vir volgehoue besondere prestasie.
Dié medalje, in soliede silwer, is die fakulteit se hoogste toekenning, en word jaarliks toegeken aan 'n Honneurstudent wat oor die hele tydperk van sy of haar studie vir die BSc- en Honneurs BSc-grade die hoogste gemiddelde persentasie behaal het.
Botha het 'n gemiddelde persentasie van 86% vir vier jaar se studie gehandaaf, en sy slaag beide die BSc- én die BScHons-grade cum laude.
Sy sê die hoë punte het beslis nie uit die lug geval nie: “Behalwe vir die harde werk en lang ure, vind ek chemie baie interessant. Daar is nog so baie onderwerpe in chemie wat verken kan word. En ek hou van die feit dat die teorie op wiskunde, meganismes en logiese argumente gebaseer is.
“Dit is hoekom chemie soveel ure verg. 'n Mens moet probeer verstaan hoe hierdie argumente en teorieë inmekaar pas voordat jy dit verder kan toepas.
Botha is tans besig met haar MSc in chemie onder Dr M.A.L. Blackie in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap.
Haar raad aan ander BSc studente in dié moeilike veld is om nié soos 'n papegaai te leer nie: “Probeer die werk verstaan op 'n manier wat vir jou sin maak. Vra vir jouself 'hoekom doen hulle dit so?' en probeer ook die relevansie van die werk verstaan.
“As jy die teorie en somme soos 'n papegaai probeer leer, gaan jy dit eerstens baie vinnig vergeet; en tweedens gaan jy chemie nie geniet nie, want jy sal nooit daardie 'lightbulb' oomblikke ervaar wanneer jy uiteindelik iets verstaan nie," voeg sy by.
Beide haar ouers het ook aan die US studeer. Haar pa, mnr. Gert Botha, is 'n meganiese ingenieur, en haar ma, mev. Hanlie Botha, is 'n analitiese chemikus en werk as tegniese beampte by die US se Departement Prosesingenieurswese.
Foto bo: 'n Oud-leerling van Hoërskool Strand, me. Jana Botha, het die gesogte Dekaansmedalje as beste BSc-student in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe ontvang. Die medalje is tydens 'n spesiale funksie op Donderdag, 2 November 2017, deur die dekaan, Prof Louise Warnich, aan haar oorhandig. Foto: Wiida Fourie-Basson