
Nadine Moodie tot Stellenbosch se Universiteitsraad benoem
Me Nadine Moodie, 'n bestuurs- en strategiekonsultant, is as lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) verkies. Twee lede word deur die raad self verkies, terwyl die res verskeie belanghebbers van die Universiteit verteenwoordig, soos die Konvokasie, donateurs, die Senaat en diegene wat deur die Minister van Hoër Onderwys en die Studenteraad, aangewys word.
Moodie, wat 'n alumnus van die Universiteit en ook 'n voormalige studenteleier is, se termyn op die Raad sal van 18 Junie 2019 tot 17 Junie 2023 strek.
“Ek voel geëerd en dienswillig om tot die Raad verkies te word en ek sien daarna uit om terug te gee aan die US, 'n instelling wat baie tot my ontwikkeling bygedra het en my soveel blootstelling op so baie terreine van leierskap en leer gegee het."
As 'n senior vennoot by Step Advisory, 'n boetiek bestuurskonsultasiefirma, dien Moodie as 'n bestuurs- en strategiekonsultant wat kliënte in die finansiële dienste-sektor bystaan. Sy was voorheen as senior kommunikasiespesialis by McKinsey & Company, waar sy medeverantwoordelik was vir die bestuur van projekte regoor Afrika, en sy het ook aan gevorderde analise-projekte in Noord-Amerika gewerk.
Moodie het ook 'n internskap by Media24 gedoen nadat sy haar studies in 2012 voltooi het.
Sy het die grade BPhil (Joernalistiek) en BA (Internasionale Studies) aan die US behaal. Sy het aan die St Cyprian-skool in Kaapstad gematrikuleer.
Moodie is onder meer as een van die Mail & Guardian se “200 Young South Africans" gekies in 2017 (sake en ondernemingskap-kategorie), terwyl sy ook in 2009 die US se Visekanselierstoekenning vir Diens en Leierskap ontvang het.
Mnr George Steyn, voorsitter van die Universiteitsraad, sê hulle sien uit na die kundigheid wat Moodie tot die Raad se aktiwiteite sal kan bydra. “Ons sal nie net uit me Moodie se kundigheid as bestuurs- en strategiekonsultant kan put nie, maar sy het ook redelik onlangs haar studies aan die Universiteit voltooi. Daarom sal sy waardevolle en energieke insigte in die lewe van jongmense in die land kan gee."